Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
MRK ondersoek redes vir geweld in Wes-Kaap

Die Menseregtekommissie (MRK) stuur binne die volgende maand ’n ondersoek van stapel na die oorsake van geweld en misdaad in die Wes-Kaap en moontlike oplossings daarvoor.

Chris Nissen, kommissaris van die MRK.Foto: Argief

Chris Nissen, ’n kommissaris van die MRK, sê hoewel die polisie en weermag ’n groot rol speel om probleme te takel, is dit nie ’n “eenrigtingoplossing” nie.

“Ons kan nie net kyk na die polisie en verwag hulle moet al die probleme oplos nie. Die MRK sal ondersoek waar die wortel van die onrus lê, en wat gedoen kan word om dit uit te roei,” sê Nissen.

“Veral munisipaliteite se begrotings moet bekyk word. Dit wil voorkom asof meer geld in die ‘bodorp’ bestee word as in die ‘onderdorp’.

“Aan die een kant is daar sypaadjies, verkeersirkels en verkeersligte, en aan die ander kant is die strate só nou, mense baklei oor wie daar mag ry,” sê hy.

“Ons moet onsself afvra, gee die begrotings aandag aan omstandighede in die gemeenskappe?”

Nissen sê misdaad en geweld is nie net ’n probleem in die Wes-Kaap nie, maar ook veral in Port Elizabeth en Soweto.

“Dit is ook nie net in die bruin gemeenskappe nie, maar ook in die swart gemeenskappe. Nyanga (in Kaapstad) is byvoorbeeld ’n ongelooflik gevaarlike plek, waar tussen 30 en 40 mense per maand sterf.”

Nissen stel voor daar moet gekyk word na hoe verskillende rolspelers in die samelewing hul rol vervul, byvoorbeeld die munisipaliteite, skole en kerke.

“Ons moet kyk of almal doen wat hulle moet doen. En as ons vind hulle doen dit nie, moet ons hulle voor stok kry,” sê hy.

“Ons moet kyk waar al die onwettige wapens vandaan kom waarop misdadigers hul hande lê. Ons moet kyk wie koop die gesteelde goedere ná ’n huisbraak. Al dié elemente dra by tot die probleem.”

Nissen sê die ondersoek gaan nie een groot “kla-sessie” wees nie, maar wel ’n onderneming om seker te maak daar kom daadwerklike optrede.

“Die geweld waarvan ’n mens elke dag lees, ruk jou. Jy kry seer in jou siel. Ons moet nie net na die polisie kyk om die probleme op te los nie,” sê Nissen.

Hy sê hy sal intens betrokke wees by die ondersoek, saam met ander lede van die MRK en regsgeleerdes.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.