Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Musikant sterf, snuffelhonde van 200 km ver gebring

’n Gebrek aan polisievoertuie om die plaaslike snuffelhonde mee te vervoer en honde wat toe tot 200 km ver van Richardsbaai af ingebring moes word, het moontlik Simon Milliken (60) van Durban se kans op oorlewing in die wiele gery.

Dié begaafde Britse musikant wat nog soms kontrabas saam met die KwaZulu-Natalse Filharmoniese Orkes gespeel het, is Vrydagmiddag omstreeks 16:00 in die Burman Bush-natuurreservaat in Morningside, Durban, dood nadat hy in die bors gesteek is.

Simon MillikenFoto: Facebook

Perry So, ’n gasdirigent van Hongkong wat tydens die voorval by hom was, het ongedeerd weggekom en die polisie ontbied.

Milliken se lyk is egter eers die volgende oggend rondom 06:00 deur ’n verbyganger gevind.

Martin Meyer, DA-raadslid van Wyk 27, sê hy is baie ongelukkig oor hoe die polisie die voorval hanteer het. “Ek is eers die volgende oggend in kennis gestel. Ons het verneem dat die plaaslike honde-eenheid nie kon uitkom nie, omdat daar nie voertuie beskikbaar was nie. Hulle moes honde van Richardsbaai kry om te kom soek. Dis 200 km ver. As die polisie die gemeenskapspolisiëringsforum gebel het, sou ons die gemeenskap kon mobiliseer om te help soek,” sê Meyer.

Hy sê hy het van die staatsambulansdiens verneem Milliken is in ’n fetusposisie in die paadjie gevind.

“Hy is nie dadelik dood nie. Ek verstaan nie waarom dit so lank geneem het om iemand in ’n paadjie in ’n bos van 55 hektaar op te spoor nie. Die nooddiens sê Milliken is vermoedelik in die long gesteek en dit lyk asof hy in sy eie bloed verdrink het.”

Burman Bush is volgens Wikipedia sowat 8 km van die Durban-middestad geleë.

Volgens Meyer is hy al die afgelope drie jaar besig om die veiligheid van die reservaat onder die munisipaliteit se aandag te bring. “Die afgelope twee maande het die misdaadvoorvalle toegeneem. Ek het aanhou skryf aan die munisipaliteit en hulle gesê van die gate in die heining. Ons het ook ’n groot tekort aan veiligheidswagte, wat tussen vier reservate verdeel moet word.”

Michel Schneuwly, direkteur van Baroque 2000 en ’n voormalige trompetspeler van die orkes, sê ’n voetganger wat vroeg Saterdagoggend met sy hond gaan stap het, het op Simon Milliken se lyk afgekom.“Ek was daar toe die polisie hom in ’n lyksak by die bosse uitdra. Dit was iets verskrikliks om te aanskou.” Foto: Facebook
Die gasdirigent Perry So, wat kon wegkom en die polisie ontbied het. Foto: Facebook

Meyer sê sy e-posse het uiteindelik reaksie ontlok, maar die munisipaliteit het laat weet dat hulle nie tans die begroting het vir ’n nuwe heining nie.

“Een van die ander reservate se heinings word egter vervang en hulle het laat weet ons kan daardie stukke heining kry om die gate solank toe te maak. Ons het nou al die gate uitgemeet, maar nog nie die stukke heining ontvang nie,” sê Meyer.

Hy sê hy het versoek dat die reservaat gesluit word totdat die veiligheidsprobleem uitgesorteer is.

’n Mediese dokter wat op voorwaarde van anonimiteit praat, sê dis baie moeilik om te voorspel of ’n vinniger reaksie deur die polisie Milliken se lewe sou kon red.

“Dit hang regtig van soveel faktore af en ook waar die mes sy bors gepenetreer het. Meswonde reguit in die hart of long kan ’n persoon binne ’n halfuur laat uitbloei of versmoor. As hy op ’n ander plek in die bors gesteek is, kon hy dalk nog ’n paar uur langer geleef het. Maar elke persoon is uniek, so ’n voorspelling is baie moeilik,” sê sy.

Die polisie kon nie onmiddellik op navrae reageer nie. Hul kommentaar sal bygewerk word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.