Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Mý hart ook uitgesny,’ sê boer
Pieter-Jan Fourie, van die plaas, Kaalfontein in Noordwes.Foto: Verskaf

“Hulle het nie net my besies gesny nie, hulle het my hart uitgesny,” sê Pieter-Jan Fourie (38) van die plaas Kaalfontein in Noordwes, nadat veediewe Woensdagnag sy beeste wreedaardig afgemaai het.

Marietjie van Deventer, sy tante, het vroeër vertel stukke vleis is uit die lewendige beeste gesny. “Party het nog vir ure daarna gelewe tot Pieter-Jan op hulle afgekom en hulle van kant gemaak het,” het sy gesê.

Dis is die tweede keer in een maand dat veediewe Fourie se beeste op sy plaas tussen Koster en Magaliesburg op só ’n wreedaardige manier slag.

“Ek het ’n melkery, skape en ’n paar varkies – en dan het ek so 200 vleisbeeste,” sê Fourie.

“Hulle het op 30 Augustus die drade geknip en sewe beeste geslag. Een koei kon nie opstaan nie, omdat hulle haar haksenings afgesny het en vyf kalfies was ma-loos na die slagting,” sê hy.

“Die buurman het my laat weet iets is fout. Van my besies was in sy landerye en party het bloederig gelyk. Die diewe het dié slag ’n paar van die beeste oorgejaag na sy plaas toe en hulle dáár gaan slag,” sê hy.

“Ek is seker dis dieselfde diewe as voorheen.”

Volgens Fourie is 12 verse deur die veediewe vermink.

“Hulle het vyf op die plek geslag. Twee ander was so beseer, ek moes hulle self slag. Ek hoop ons kan die ander vyf red,” sê hy.

“Een se agterbene is afgekap en sy kon nie loop nie, maar het nog vanoggend gelewe. ’n Ander een se stert het sommer so in die lug gestaan soos sy gekap is, maar sy het nog regop gestaan toe hulle haar kry. Nog een het gelê, want haar haksenings was afgekap. Hoe verskriklik wreed kan ’n mens wees?” het Van Deventer vroeër gevra.

’n Vers wie se stert sommer in die lug staan soos sy vermink is. Die een wat plat lê se haksenings is afgekap. Al die verminkte beeste is van kant gemaak.Foto: Verskaf
Dié vers se agterbene is afgekap maar sy het steeds probeer loop.Foto: Verskaf

Sy sê haar susterskind is “gebreek”. “Jy het geen idee watter emosies hierdie ding by ’n boer aanwakker nie,” sê sy.

“Die versies het almal name gehad. As ek in die veld kom, het hulle sommer na my toe gehardloop. My dogter (14) is so lief vir diere en die een was haar versie. Ek weet nie hoe ek vir haar gaan sê sy is dood nie,” sê Fourie.

Hy ly reeds R200 000 se skade weens die twee voorvalle.

’n Saak van veediefstal is by die Magaliesburg-polisiekantoor aangemeld.

Meer oor:  Slag  |  Pieter-Jan Fourie  |  Kaalfontein  |  Veediewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.