Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘My kind is soos ’n hond geskiet’

Waar was die weermag toe my swanger dogter deur bendelede doodgeskiet is, huil-vra Nadeema Newman van Tambo Village in die bendegeteisterde Manenberg op die Kaapse Vlakte.

Nadeema en Yassiem Newman treur oor hul dogter. Foto: Edrea du Toit

Die 26-jarige Sadiqah Newman is voorverlede Donderdag met agt skote in die straat voor hul huis neergevel. Vier skote is deur haar kop.

“Sadiqah is soos ’n hond geskiet. Sy het gaan krag koop. Daar was net een unit op die box,” sê Newman, terwyl rou snikke deur haar tenger lyf skeur. “Die army beteken niks! Mors net ons tax-geld.

“Ons het so uitgesien na die geboorte. Die baba se naam sou Laika wees. Die gangsters het my kind en my kleinkind gesteel.”

Drie weke tevore is die 22-jarige Tasneem Simons ook daar naby noodlottig deur ’n dwaalkoeël getref.

Die baba se naam sou Laika wees. Die gangsters het my kind en my kleinkind gesteel.

Yassiem Newman, Sadiqah se pa, stap op en af in die gesin se beknopte kombuis. Een van die vermeende moordenaars was soos ’n kind in die huis, sê hy.

Sadiqah se ring, selfoon en R50 is gevat.

Manenberg is een van tien gebiede waar die weermag die afgelope maand ontplooi is. Die ander is Nyanga, Philippi, Khayelitsha, Kraaifontein, Bishop Lavis, Elsiesrivier, Mfuleni, Delft en Mitchells Plain.

Volgens die kantoor van Bheki Cele, minister van polisie, gebeur 47% van alle moorde in die hele provinsie – 3 963 in die vorige rapporteringsjaar in die Wes-Kaap – in dié tien gebiede. Philippi-Oos het die meeste moorde.

Vermoor: Sadiqah Newman (26)

In die eerste naweek nadat die weermag ontplooi is, is 26 moorde op die Kaapse Vlakte gepleeg; die volgende naweek was dit 46.

Tog bevraagteken die navorser Andrew Faull die opvatting dat die meeste moorde hier bendeverwant is – sy bevindings vir die Instituut vir Sekerheidstudies wys eerder dat interpersoonlike botsings die grootste oorsaak van die moord en doodslag is.

Die hoogste moordsyfers is in gebiede wat nie histories geteister is deur bendes nie – plekke soos Nyanga, Philippi-Oos en Khayelitsha.

“Moorde gebeur meestal oor naweke en saans, wanneer mense geneig is om te drink en te sosialiseer. En meestal geskied die moorde deur skerp en stomp trauma,” sê Faull.

Hy bevraagteken daarom ook die motivering vir die ontplooiing van die weermag hier.

“Is dit om te keer dat vriende en verliefdes mekaar vermoor, misdadige stokkiesdraaiende jeug pendelaars beroof, of georganiseerde bendelede mekaar doodskiet?”

Soldate in Manenberg. Foto: Peter Abrahams
Soldate in Manenberg. Foto: Peter Abrahams

Faull sê dis nog onbekend of die soldate mense op die Vlakte laat veiliger voel.

Hy sê selfs as die weermag ’n groot impak op die vlakke van geweld gehad het, sou ’n mens mooi moes gaan kyk wat presies verander het. “Het minder leerlinge stokkies gedraai, het meer swanger ma’s die kliniek besoek vir opvolgbesoeke en het meer kinders naskoolse programme bygewoon?”

Martin Makasi, voorsitter van Nyanga se gemeenskapspolisiëringsforum, sê hy was nie ten gunste van die weermag se ontplooiing nie, maar die polisie se teenwoordigheid maak wel ’n verskil. Hy sê baie forums hier glo die weermag is net ’n tydelike oplossing.

Soldate word elke middag ontplooi en bly gewoonlik ’n paar ure lank in ’n gebied.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê sy departement en die premierskantoor samel weekliks syfers in by lykshuise om presies te sien wat met die moordkoers gebeur. Fritz sê die statistieke wys ’n soort stabilisering in die getal moorde in die metro en die sogenaamde “bendestasies”.

“Ons aanvanklike analise van die naweekmoorde wys dat nie alle moorde aan bendeverwante aktiwiteite te wyte is nie, maar ook aan interpersoonlike geweld.”

Volgens die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, wys die mees onlangse polisiestatistieke dat ongeveer een uit drie moorde in die provinsie aan bendegeweld verbind kan word.

Fritz sê daar is sterk bewyse dat die teenwoordigheid van die weermag ’n positiewe uitwerking het. Talle onwettige wapens is gekonfiskeer en meer as 1 000 mense met uitstaande lasbriewe vir ander misdade is in hegtenis geneem.

Baie van dié mense bly egter nie baie lank in aanhouding nie.

Fritz sê die teenwoordigheid van die weermag alleen is nie genoeg nie.

“Die uitwissing van bendes vereis dat die hele samelewing saamwerk.

“Dit is reeds 30 dae sedert die weermag ontplooi is, maar die getal skietvoorvalle en moorde het nie afgeneem nie.”

Volgens Winde duur die Wes-Kaap se dispuut met die nasionale polisiediens voort omdat die provinsie volgens hom ’n tekort aan 4 500 polisielede het.

“Aan die kern van die probleem is die onregverdige toewysing van hulpbronne aan die provinsie.

“Die gelykheidshof het ook reeds beslis dat daar onregverdig teen swart en arm inwoners gediskrimineer word.”

Winde sê om bendes doeltreffend te takel, vereis ’n doeltreffende polisie- en misdaadintelligensiediens asook ’n versterkte regstelsel.

Die moeilikste is egter seker die belangrikste, naamlik om weldra die maatskaplike omstandighede wat ’n broeiplek vir misdaad is, te verbeter.

Brig.genl. Mafi Mgobozi, nasionale woordvoerder van die weermag, het gister gesê die ontplooiing “verloop volgens plan”.

“Ons het ’n merkbare vermindering in skietverwante sterftes gesien. Die suksesse van die operasie sal deur die polisie gekommunikeer word.”

Meer oor:  Moord  |  Bendegeweld  |  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.