Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘My ma, my ma, wat het ek gedoen?’

Gesleep, aangerand, moontlik verkrag en toe verwurg.

Dit is hoe Bridgenay Slingers (18) van Blompark, Gansbaai, Saterdagaand aan die hand van haar vermeende moordenaar, haar gewese kêrel, gesterf het.

Sy het hul verhouding ’n week gelede beëindig.

Bridgenay Slingers
Bridgenay Slingers se vermeende moordenaar verskyn Dinsdag in die landdroshof in Hermanus. Foto: Facebook

Haar ma, Angeline Slingers (40), en sy ma het Saterdagaand met haar verminkte liggaam in sy bebloede arms op hom afgekom. Sy was reeds dood.

Toe die vermeende moordenaar sy ma se stem hoor, het hy geskreeu: “My ma, my ma, kom help, wat het ek gedoen?”

Slingers het Maandag gesê die 21-jarige man het op sy knieë in die veld naby die plaaslike rugbyveld met haar dooie kind in sy arms gesit.

“Bridgenay se gesig was pimpel en pers, met haar een oog toegeslaan. Haar hele lyf was vol byt- en krapmerke en haar broek was ook halfpad teen haar lyf afgetrek. Sy het ook ’n kopwond gehad,” sê Slingers.

Die jong man het Bridgenay glo reeds die middag by ’n ooievaarsteepartytjie waar sy was, gaan haal en het haar toe volgens ooggetuies reeds begin slaan. Van daar is hy vermoedelik eers na sy ouerhuis met Bridgenay en later na die beboste gebied naby die rugbyveld in Blompark, waar hy haar vermoedelik verder aangerand, verkrag en toe verwurg het.

Ons was naby die veld by die rugbyveld en het met mekaar gepraat en na hulle geroep. Hy moes sy ma se stem herken het en het toe na haar geroep: “My ma, my ma, kom help, wat het ek gedoen?

Bridgenay was ’n gr. 10-leerling aan die Gansbaai Akademie.

Slingers het Maandag gesê dat sy Bridgenay Saterdag omstreeks 14:30 self na ’n vriendin se huis gebring het waar ’n ooievaarspartytjie gehou is.

“Ek het begin bekommerd raak toe sy teen 21:00 nog nie by die huis was nie. Ook omdat die elektrisiteit in Gansbaai af was.”

Slingers en haar lewensmaat, Patrick Pieters, en haar jongste dogter het toe in die donker na die vriendin se huis gestap waar sy haar kind die middag gelos het.

Daar gekom, het die mense vir haar gesê dat die gewese kêrel Bridgenay die middag daar kom haal het en haar toe glo reeds “onder bloed” begin slaan het. Nie een van haar vriende het egter haar ouers laat weet dat haar gewese kêrel toe reeds begin het om haar aan te rand nie.

Slingers sê hulle is toe na die kêrel se ouerhuis waar hulle sy ma wakker geklop het. Die kêrel se ma het gesê hulle is nie daar nie. Sy het volgens Slingers besluit om saam met hulle verder na Bridgenay en haar seun te soek.

Sy was altyd net mooi met ander. Hoekom haar doodmaak?

“Ons was naby die veld by die rugbyveld en het met mekaar gepraat en na hulle geroep. Hy moes sy ma se stem herken het en het toe na haar geroep: “My ma, my ma, kom help, wat het ek gedoen?”

Slingers sê die man het al voorheen gedreig om haar kind dood te maak.

“En vandag, vandag moet ek my kind se gebroke lyf by die lykshuis gaan uitken. Hoekom moes hy haar doodmaak? Hoekom moes hy haar so verniel? Sy het dit mos nie verdien nie.”

Sy sê hoewel Bridgenay haar tweede oudste kind was, het sy haar altyd 'n bietjie soos haar baba behandel.

“Ag man, ek kon nie help om haar op te piep nie. Sy was my liefdevolle kind, altyd vol grappies en liefde vir haar maatjies en almal om haar. Sy was altyd net mooi met ander. Hoekom haar doodmaak?”

Sers. Noloyiso Rwexana het die voorval bevestig en gesê ’n 21-jarige man is Saterdagaand in hegtenis geneem. Hy verskyn Dinsdag op aanklag van moord in die landdroshof in Hermanus.

Bridgenay se moord kom twee weke nadat pres. Cyril Ramaphosa op Woensdag 17 Junie in sy televisieboodskap oor die Covid-19-pandemie en die inperkingsmaatreëls verwys het na slagoffers van gesinsgeweld soos Altecia Kortjie, haar dogtertjie Raynecia Kortjie, Tshegofatso Pule, Naledi Phangindawo, Nompumelelo Tshaka, Nomfazi Gabada, Nwabisa Mgwandela en Lindelwa Peni. Almal van hulle is in die afgelope twee maande op wreedaardige wyse vermoor deur mans wat aan hulle bekend was.

Toe hy na Kortjie en Raynecia verwys het, het Ramaphosa gesê dat hy as ’n man en ’n pa met afgryse vervul is oor die oorlog wat teen vroue en kinders in die land gevoer word.

Meer oor:  Gansbaai  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.