Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘ ’n Mens kan huisroof-syfers nie glo’

Ferdie van Greunen (47) is dankbaar dat hy die dag in Mei vanjaar sy gesin teen huisrowers kon beskerm.

Hy is “gelukkig en geseënd” dat hy en sy geliefdes nie deel is van die jongste moordsyfer nie. Uit die statistieke wat vandeesweek uitgereik is, blyk dit dat moord in Gauteng met 3,2% toegeneem het.

In 2016-’17 is 4 101 moorde in Gauteng aangemeld en in 2017-’18 is 4 233 gevalle aangemeld, berig Jana Marx.

Landwyd was moord die afgelope tien jaar die laagste in 2011 met 15 360 gevalle. In die jongste boekjaar is die syfer 20 336.

Die Van Greunens was die prooi van ’n huisroof.

In ’n poging op 5 Mei om sy gesin te beskerm het Van Greunen twee huisrowers doodgeskiet in die oprit van die gesin se huis in Lynnwoodrif, Pretoria.

Toe die gesin dié Saterdagmiddag tuiskom ná ete by ’n restaurant, was daar ’n vreemde voertuig in die oprit.

Die toneel buite die huis in Lynnwoodrif, Pretoria, waar twee rowers in Mei vanjaar doodgeskiet is.Foto: Verskaf

Van Greunen het uit sy voertuig geklim om ondersoek in te stel toe twee mans uit die huis gekom het. Een van hulle het in sy motor geklim en probeer om met sy vrou en kinders weg te ry, maar het teen die muur gebots.

Die ander rower, wat agter die stuur van die vreemde voertuig was, het aanhoudend teen Van Greunen se voertuig vasgery.

Hy het daarin geslaag om sy gesinslede uit hul voertuig te kry en het in die proses die twee rowers doodgeskiet.

Twee dae later het ’n groep mense buite die huis saamgedrom en hom en sy gesin met die dood gedreig.

Vir hul veiligheid het hy sy vrou en kinders landuit gestuur.

“Ek het my vuurwapen, wat ek vir selfverdediging dra, by my gehad. Ek is dankbaar dat ek dit by my gehad het en my gesin kon beskerm.”

Jana Marx berig in die vorige boekjaar is 8 731 huisrooftogte in Gauteng aangemeld, teenoor die nuutste statistiek van 8 333 sake. Daar is dus ’n 4,6%-afname in huisrooftogte in die 2017-’18-boekjaar.

Die jongste statistieke toon dat 22 261 huisrooftogte in Suid-Afrika aangemeld is. Dit is ’n afname van 0,4% teenoor die vorige jaar.

“Ek bevraagteken dit. Ek vertrou dit glad nie – ’n mens kan dit nie glo nie. Roof en diefstal is deesdae nie net dít nie – dit gaan gepaard met geweld.

Van Greunen sê dat hy vier maande ná die voorval nog geen oproep of terugvoering van die polisie ontvang het nie.

Kapt. Dave Miller, ’n polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê dit is moeilik om kommentaar hierop te lewer.

“Ek moet by die ondersoekbeampte uitvind hoe ver die ondersoek gevorder het en waar die dossier is.”

Hy sê in gewone omstandighede moet die klaer minstens maandeliks, na gelang van die situasie, terugvoering kry van die ondersoekbeampte.

Hoe word die syfers bepaal? Kenner verduidelik

Daar is verskeie metodes om te bepaal watter kategorieë se misdaadstatistieke betroubaar is, sê Gareth Newham, hoof van geregtigheid en geweldvoorkoming van die Instituut vir Sekerheidstudies.

“Moord is die betroubaarste statistiek omdat alle moorde by die polisie aangemeld word.

“In teenstelling daarmee is aanranding die mins betroubare misdaadstatistiek omdat dit nie in alle gevalle aangemeld word nie.

Newham sê die afname van 0,4% landwyd ten opsigte van huisrooftogte is ’n aanduiding dat hierdie misdryf stabiliseer en nie daadwerklik afneem nie.

“Dit is ’n klein afname en beteken nie mense is nou veilig nie. Dit is net goeie nuus wanneer dit afneem met meer as 5%.”

Huisrooftogte is een van die misdaadkategorieë wat meer as ander aangemeld word, sê hy.

“Ses uit tien slagoffers rapporteer huisrooftogte. In 40% van die gevalle word nie nie aangemeld nie – meestal wanneer niemand beseer is nie en waar die gesteelde goedere nie verseker is nie. Hulle dink die polisie sal dan niks daaraan doen nie.”

Hy sê hoewel die jongste statistieke “sleg” lyk, was die departement van polisie vanjaar eerliker oor die syfers.

“Hulle was ook meer bereid om te erken daar is ’n ernstige probleem met polisiëring. Hulle het sorgvuldig na die statistieke gekyk om verandering aan te bring.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.