Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
N2 by Plet gesluit weens betogers wat klipgooi

Voorvalle van klipgooiery het Woensdag op die N2-snelweg by Plettenbergbaai in die Suid-Kaap voorgekom.

Die N2 tussen die Shell Ultra-vulstasie en Kwanokuthula was Woensdagmiddag laat steeds gesluit en verkeer is herlei. Ontevrede inwoners het ook in ’n betoging bande aan die brand gesteek.

Die N2 Woensdagoggend vroeg tydens betogings by Kwanokuthula naby Plettenbergbaai.

Twee raadslede en drie munisipale amptenare van die Bitou-munisipaliteit is vroeër as ’n voorsorgmaatreël vanaf Pinetrees, Bossiesgif en New Horizons na veiligheid geneem. Die Bitou-munisipaliteit sê in ’n verklaring sy administratiewe kantoor is ook gesluit.

Op Facebook het dit geblyk dat talle mense nie by die werk kon uitkom nie. Sommige sakeondernemings het hul deure vir die dag gesluit.

Die betoging het Dinsdagaand in Qolweni uitgebreek.

Volgens die Bitou-munisipaliteit het inwoners van Qolweni op 18 Junie in ’n griefskrif hul ontevredenheid oor swak dienslewering en behuising laat blyk. Die klagtes sluit die stadige pas van ’n behuisingsprojek, bekend as die Minnaar-grondontwikkeling, in, asook mense wat informele huise uitverhuur. Die inwoners is ook ontevrede oor die gebrek aan sportgeriewe en die tenders wat telkens aan dieselfde klein-, middelslag- en mikro-ondernemings toegeken word.

Woensdag het die gemeenskap ook skielik geëis dat Xola Matyila, die raadslid vir wyk 3, bedank.

Volgens die munisipaliteit het Peter Lobese, Bitou se burgemeester, skriftelik op die griewe gereageer en ook op 25 Junie ’n vergadering gehou. ’n Nuwe spertyd is toe ingestel, wat Dinsdag verstryk het. Eerder as om verder daaroor gesprek te voer, het betogings Dinsdagaand uitgebars, sê die munisipaliteit.

Hy sê hy is nie bewus van enige oortreding wat Matyila begaan het ingevolge die gedragskode vir raadslede nie en daarom moet die ANC, die party wat hy verteenwoordig, daaroor besluit.

Die polisie het Woensdag deur die dag skokgranate, rubberkoeëls en traangas gebruik om protesgangers uiteen te jaag, sê die munisipaliteit.

’n Vergadering sou laatmiddag tussen gemeenskapsleiers en Lobese plaasvind.

Manfred van Rooyen, munisipale woordvoerder, het in ’n stemboodskap gesê daar word probeer om die N2 so spoedig moontlik weer vir verkeer oop te stel.

Die betoging word deur die polisie ondersoek en mense wat die wet oortree sal in hegtenis geneem word, waarsku hy.

Meer oor:  N2  |  Suid-Kaap  |  Plettenbergbaai  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.