Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nagmerrie op Valentynsdag vir 2 toeriste
Tommaso Bordoni en sy vriendin, Linsey de Waele, tydens hul besoek aan Suid-Afrika. Foto: Verskaf

Wat veronderstel was om ’n perfekte Afrika-Valentynsdag te wees, het vir twee toeriste in ’n nagmerrie ontaard toe gewapende rowers op hulle toeslaan.

Ná ’n dag op safari in Addo in die Oos-Kaap het Tommaso Bordoni (29) van België en sy meisie, Linsey de Waele (25) van Nederland, se aand sleg skeefgeloop.

Twee mans het by die kamer ingekom waar die twee toeriste op ’n gasteplaas in Addo gebly het. Bordoni het binne sekondes ’n mes teen sy keel gehad, terwyl ’n ander man ’n vuurwapen teen sy kop gedruk het.

“Ek het net begin huil en vir my lewe gesmeek. Ek het vir hulle gesê hulle kan alles en enigiets vat,” sê Bordoni.

Terwyl die rowers deur die toeriste se bagasie gekrap het, het De Waele in die badkamer geskuil.

Skaars 48 uur voor die aanval het die paartjie nog oor die scenario van so ’n tipe misdaad gepraat. Toe het Bordoni vir De Waele gesê om onmiddellik te vlug as sy die kans kry of wegbly as sy kan.

“Min het ons geweet ons sou so gou in só ’n situasie beland,” het Bordoni gesê terwyl hulle Vrydag op die Kaapstadse Lughawe vir hul vlug terug na België gewag het.

Die paartjie het op 5 Februarie in Kaapstad vir ’n vriend van Bordoni se troue aangekom.

Bordoni was al voorheen op sakebesoeke in Suid-Afrika, maar dit was sy eerste vakansie in die land en De Waele se eerste vakansie buite Europa.

“Alles was perfek, dit was ’n wonderlike vakansie behalwe vir die aaklige, slegte ding wat gebeur het.”

Die rowers het Bordoni kort voor middernag op Valentynsaand oorval terwyl De Waele in die badkamer besig was.

“Aanvanklik was ek nie bang nie, want ek was nie seker wat gebeur nie en het gedink dit is dalk personeellede. Maar toe kom die wapens.”

De Waele het in die badkamer gehoor hoe die man vir wie sy lief is om genade smeek, maar het geweet sy moet wegkruip.

“Linsey was slim genoeg om tjoepstil te bly. Sy het selfs haar selfoon in ’n handdoek toegevou om te keer dat enige geluide gehoor word.”

Nadat die rowers die paartjie se geld, paspoorte, lisensies en klere gevat het, is Bordoni gedwing om hul gehuurde motor uit te wys.

Die polisie fynkam die twee toeriste se kamer vir vingerafdrukke nadat hulle op ’n gasteplaas in Addo beroof is. Foto: Facebook

“Op pad uit die kamer het ek net besef dit is die einde. Hulle wil seker nie ooggetuies hê nie en ek gaan nou doodgeskiet word.

“In die hele voorval het ek op daardie oomblik die meeste kalmte ervaar. Ek het geweet Linsey is ten minste veilig en het aanvaar dit is die einde.”

Maar die rowers het gesukkel om die motor aan die gang te kry en Bordoni het weggehardloop.

Hy het ’n histeriese De Waele op pad terug na hul kamer gekry, waarna hulle saam by ’n ander huis op die gasteplaas hulp gaan soek het.

“Binne 15 minute was daar seker 15 polisielede en nog mense op die toneel. Hulle het tot 05:00 ons kamer vir vingerafdrukke deursoek.”

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê die polisie het van die gesteelde klere gekry in die gehuurde motor waarin die rowers probeer vlug het.

Niemand was teen Vrydag nog in hegtenis geneem nie, maar die polisie volg alle moontlike leidrade op.

Ná die ontbering het die paartjie op Facebook hulp en raad gevra oor ’n konsulaat en hoe om nuwe paspoorte te bekom.

“Ons het só baie hulp en aanbiedings van Suid-Afrikaners gekry, dis eintlik ongelooflik. Daar was honderde boodskappe. Tot so ’n paar minute gelede het ek nog boodskappe gekry van mense wat hulp aanbied.

“As ek al die geld aanvaar het wat mense ons aangebied het, sou ek waarskynlik ’n huis kon koop.”

Die paartjie, wat veronderstel was om verlede Sondag terug te vlieg huis toe, het die afgelope week in Kaapstad deurgebring terwyl hulle op nuwe paspoorte gewag het.

Ons het só baie hulp en aanbiedings van Suid-Afrikaners gekry, dis eintlik ongelooflik. Daar was honderde boodskappe. Tot so ’n paar minute gelede het ek nog boodskappe gekry van mense wat hulp aanbied.

Hoewel hulle nie verder enige besigtigingstoere onderneem het nie, meen Bordoni dat hulle beslis weer vir vakansie na Suid-Afrika sal terugkeer.

“Ons het geweet van die misdaad. Maar dit is ’n pragtige plek, met ongelooflike mense. Buiten vir die een voorval het ons ’n wonderlike ervaring gehad, gawe mense ontmoet en gesien hoe hulpvaardig die mense hier is.”

* Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die rooftog om speur-ao. Gert Lloyd by 082 441 7906 te bel of die Addo-polisiekantoor by 042 233 8803 te skakel.

Meer oor:  Gewapende Rooftog  |  Toeriste  |  Addo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.