Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Najwa koop net té lekker in tronk

Die veroordeelde moordenaar Najwa Petersen is glo uitgevang dat sy duisende rande per maand in die tronkwinkel bestee – baie meer as wat toegelaat word.

Alle gevangenes het ’n “debietkaart” waarop hul families hoogstens R700 per maand kan inbetaal om basiese items soos sigarette en snoepgoed by die tronkwinkel te koop. Petersen het duisende rande meer as die toelaatbare bedrag op haar kaart en het dié geld glo gebruik om gunste by bewaarders te koop. Sy was ook in beheer van die tronkwinkel.

Senior tronkowerhede het bewus geword daarvan toe ’n medegevangene gaan kla.

Petersen is van die Brandvlei-gevangenis by Worces­ter na Pollsmoor in die suidelike Skiereiland verskuif terwyl die saak ondersoek word.

Sy dien 28 jaar tronkstraf uit vir haar aandeel in die moord op haar man, die musieklegende Taliep. Sy het met Abdoer Emjedi en Waheed Hassen saamgesweer om hom op 16 Desember 2006 in sy huis in Athlone te vermoor.

Emjedi en Hassen dien onderskeidelik 24 en 25 jaar tronkstraf uit.

Volgens ingeligte bronne was Estelle Valentine, hoof van die vrouetronk by Brandvlei, erg verleë nadat die beweringe aan die lig gekom het. Sy het intussen bedank. Dit is nie duidelik of sy bewus was van alles nie.

Petersen, wat al tien jaar tronkstraf uitgedien het, se kanse op vroeë parool is waarskynlik nou beduiwel.

Haar verskuiwing na Polls­moor het blykbaar selfs van haar eie familielede onkant gevang.

Haar familie wou nie kommentaar lewer nie, maar Taliep se suster Maatoema Groenmeyer het aan die Daily Voice gesê hulle het per ongeluk gehoor sy is in Pollsmoor.

Lewies Davids, ’n woordvoerder by Pollsmoor, het bevestig dat Petersen daar opgeneem is en sê dit is die gevangene se verantwoordelik­heid om sy of haar familie in te lig oor verskuiwings.

Singabakho Nxumalo, ’n woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), sê Valentine het om “persoonlike redes” bedank.

Valentine het Saterdag, toe Rapport navrae doen oor haar bedanking, net gesê dat haar “lewe privaat is”.

Meer oor:  Taliep Petersen  |  Najwa Petersen  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.