Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Naka se broer byna slagoffer van motorkaper
Tinus Drotské Foto: Deaan Vivier

Net meer as ’n jaar gelede moes Tinus Drotské aanskou hoe sy broer, die oud-Springbok-haker en Cheetah-afrigter, Naka Drotské, drie keer voor hom geskiet word.

Maandagoggend was Tinus die slagoffer van ’n kapingspoging toe hy in sy motor by ’n rooi verkeerslig in Johannesburg gesit het.

In ’n Facebook-inskrywing vertel Tinus dat hy Maandag om 10:26 by ’n rooi verkeerslig gesit en wag het toe ’n gewapende man aan sy motorvenster geklop het.

In sy hand het die man ’n 9 mm-pistool gehad. Die man het geëis dat hy sy deur oopmaak.

“Met God se genade het ek gelukkig genoeg ruimte tussen my en die voertuig voor my gelaat en kon ek met skreeuende bande wegjaag, teen die aankomende verkeer in en oor ’n rooi lig.

“Heeltyd het ek verwag om te voel hoe koeëls my bors, rug of binnegoed enige oomblik tref.”

Die voorval Maandagoggend was bietjie meer as ’n jaar nadat Naka op Donderdagaand 29 November 2018 tydens ’n huisrooftog by Tinus se huis in Pretoria drie keer geskiet is.

Naka en sy vriend Os du Randt, ook ’n oud-Springbok, wou die gesin teen die rowers beskerm toe Drotské in ’n skermutseling getref is.

Tinus skryf in die Facebook-plasing dat hy en sy gesin nou nog probeer sin maak van daardie aand se gebeure.

“Ons probeer om dit agter ons te sit en worstel nog elke dag, elkeen op sy eie manier, met die spoke en die letsels wat daardie aand agtergelaat het. Terwyl ons ons bes probeer om ’n positiewe ingesteldheid te behou, dit agter ons te laat en aan te beweeg.”

In die inskrywing onder die opskrif en met die slotsin “Cry for my beloved country” vra Tinus of dit ’n manier is om te leef as jy angstig oor jou skouer moet loer terwyl jy voortdurend bang en angstig is.

“Môre is ’n nuwe dag met nog vergaderings, nóg rooi verkeersligte en nog ’n dag waar ek in vrees moet lewe. Nie net vir myself nie, maar veral vir Nadia (Duvenage Jooste, sy verloofde) en ons kinders.”

Tinus kon teen druktyd nog nie bereik word met navrae oor die voorval nie.

Meer oor:  Naka Drotské  |  Tinus Drotské
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.