Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Naka: Sê vir my vrou ek is lief vir haar

“Sê vir Marzanne ek is baie lief vir haar.”

’n Bloeiende en kritiek gewonde Naka Drotské (47) het nog probeer om ’n laaste boodskap aan sy oud-spanmaat en sakevennoot, Os du Randt, te gee.

“My broer het gedink hy gaan dood. Die een koeël het net onder sy hart gestop. Hulle moes gisteraand ’n stuk van sy derm verwyder en hy het septisemie. Sy arm is in gips, gebreek, want daardie koeël het hom in die elmboog getref,” vertel Tinus Drotské ure ná die aanval waarin sy broer geskiet is.

Tinus Drotské Vrydagoggend by sy kleinhoewe in Kameeldrift, Pretoria, waar sy broer Naka deur rowers geskiet is. Foto: Deaan Vivier

Twee skote, drie wonde. Die koeël wat Drotské in die arm getref het, is dwarsdeur, toe by sy bors in. Die ander een het hom in die maag getref.

“Naka het eers, nadat hy en Os die aanvallers verjaag het, besef hy is gewond,” sê Tinus buite die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria.

Binne by die kafeteria was Drotské se vrou, Marzanne, en Du Randt. Almal se oë rooi en dik van ’n slapelose en traumatiese nag. Du Randt wou nie praat nie. Die emosies was nog te vlak. Hy en Drotské kom immers ’n lang pad saam, verduidelik Tinus.

Os het net Marzanne, wat die vorige nag van Bloemfontein deurgejaag het, se hand bly vashou.

Sy is al een wat vir eers by Drotské in die waaksaal toegelaat word, uit vrees vir infeksie.

Stemme, gille, traangas en skote

Tinus vertel hortend hoe Drotské en Du Randt Donderdagmiddag by die hoewe in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, waar hy bly, aangekom het. Die drie mans is sakevennote. Drotské het later gery om sy seuns na die OR Tambo-lughawe te neem van waar die seuns na Amerika gevlieg het.

“Hy en Os sou by my oorslaap. Ons het solank begin braai terwyl ons vir Naka gewag het om terug te kom,” sê Tinus.

Behalwe vir die drie mans, was Tinus se twee seuns, onderskeidelik 11 jaar en 13 jaar oud, sy vriendin, Nadia Jooste, en haar sewejarige dogtertjie, daar. Die kinders was in die kamer, besig om televisie te kyk.

Drotské, ’n oud-Springbokhaker en Cheetah-afrigter, het om 20:30 teruggekeer. Tinus het die vleisbak op die eetkamertafel, aangrensend aan die stoep, neergesit. Du Randt het aan die hoof van die tafel gesit, Drotské met sy rug na die skuifdeur.

“Nadia het na die hoek van die vertrek gestap om die deur daar te sluit. Ek het net aangesit, toe is daar stemme. Gille. Vier mans met balaklavas en pistole het langs mekaar in die skuifdeur gestaan. Een het traangas ook gehad. Dit was 20:45,” onthou Drotské se kleinboet.

Tinus Drotské op die dek waar die braaier nog onderstebo lê nadat hy, sy broer Naka en vriend Os du Randt deur rowers oorval is. Foto: Deaan Vivier

 

Skakel die grootste een uit

Du Randt is eerste met die traangas gespuit. In die oë.

“Ek dink hulle wou die grootste ou eerste uitskakel,” sê Tinus. Die ander aanvallers het hul wapens rondgeswaai, geskree.

“My broer het opgespring net toe hulle vir Du Randt spuit. Hy het hulle al vier gelyktydig stormgeloop, sy regterarm so half gebuig voor sy gesig. Hy het hulle oor die tafel, by die skuifdeur uitgetackle. Os het ook opgespring, ten spyte van die traangas in sy oë.

“Ek het oor Nadia gaan staan om haar te beskerm. Ek het ’n skoot gehoor. Ander sê daar was drie. Ek dink dit is omdat drie aanvallers gelyktydig op my broer geskiet het,” sê Tinus terwyl hy teen die emosies baklei.

Die kinders het die skote en gille gehoor. Nadia se dogtertjie wou uitstorm na haar ma toe.

“My oudste, Wessel, het haar teruggepluk en die kamerdeur gesluit. Toe druk hy die paniekknoppie,” sê Tinus.

Die twee oudrugbyspelers het intussen die rowers verjaag en weer die huis ingekom.

“Ek het die veiligheidshek gesluit. En toe besef Naka hy is geskiet. Ek het gesê ons moet hospitaal toe. Os het geantwoord hy sal ry, ek moet by my gesin bly.”

Tinus Drotské vertel hoe sy broer Naka en Os du Randt die rowers getrotseer het. Foto: Deaan Vivier

Helde langs die pad

Du Randt het met Drotské in sy (Drotské se) Toyota Fortuner gery.

“Hy het op pad hospitaal toe ’n voertuig verbygesteek, toe tref twee wiele die middelmannetjie. Hy kon nie verder ry nie. Os het net daar voor ’n ander kar, ’n Corolla, ingespring, dit gestop.

“Daar was drie mans in. Hulle het net plek vir Naka gehad. Hierdie mense het my broer ingelaai en hospitaal toe gejaag. Os het nog ’n kar gestop en dié bestuurder oortuig om hom ook na die hospitaal te neem.

Die twee voertuie het byna gelyk by die hospitaal aangekom.

My boetie, my held

Tinus vee moeg oor sy gesig. “Vir Naka wil ek sê: Jy het ons gered. Ek wil nie dink wat sou gebeur het as jy nié die aanvallers getackle het nie.”

Hy stap met haastige treë terug na waar Du Randt en Marzanne sit. Dan stop hy.

“Dit is net God se genade dat Naka leef. My boetie is my hero. Ek skuld hom my lewe.”

AfriForum het intussen berading vir die slagoffers gereël.

Meer oor:  Naka Drotské  |  Os Du Randt  |  Aanval  |  Poging Tot Moord  |  Skietery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.