Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Name bekend van bejaardes wat sterf in plaasaanval

Sakkie en Ina van der Berg, ’n bejaarde paartjie van Boshof in die Vrystaat, is Vrydagnag op hul plaas vermoor. 

Hulle is in die huis op hul plaas Bloubos oorval en vermoor. Die aanvallers het daarna in die egpaar se voertuig gevlug. Die polisie was Saterdagoggend nog op die toneel. 

Kort nadat die nuus van nóg 'n plaasmoord bekend geword het, het politici met skok en afgryse gereageer. Volgens Mosiuoa Lekota, leier van die Congress of the People (Cope) gaan hongersnood volg as boere met kundigheid aanhou vermoor word op plase.

Mosiuoa LekotaFoto: Netwerk24

Lekota is een van vele politici wat Saterdag met skok gereageer het op die nuus dat ’n nog ’n boer en sy vrou op ’n plaas vermoor is.

Lekota sê pres. Cyril Ramaphosa en die ANC begaan ’n groot fout om die moontlikheid van onteiening van wit boere se grond sonder vergoeding enigsins te bespreek.

“Swart mense dink nou hulle is die enigstes wat grond mag besit,” het Lekota telefonies aan Netwerk24 gesê.

Volgens hom was die idee van grondonteiening sonder vergoeding ’n onderwerp wat gereeld in die apartheidsjare op Robbeneiland onder gevangenes bespreek is.

“Ons het gesê die dag as ons ons vryheid kry, sal ons sorg dat geen eiendom sonder vergoeding onteien word nie, omdat ons nie die ekonomie van die land wou ontwrig nie.”

Die Cope-leier waarsku Suid-Afrikaners met die kundigheid om die ekonomie aan die gang te hou, word vermoor.

“Die land gaan sonder kos wees as die boere aanhou doodgemaak word, want melk, vrugte, groente en vleis verskyn nie net in ’n supermark nie.

“Ek dink nie die regering besef hoe dringend hy die mense in die land se veiligheid moet opskerp nie.”

Dr. Roy JankielsohnFoto: Netwerk24

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het ook namens sy party simpatie met die naasbestaandes van die oorledenes uitgespreek.

“Ons lewe in ’n siek samelewing waarin mense en veral ons senior burgers nie meer veilig is nie.”

Jankielsohn sê die plattelandse veiligheid en veral plaasaanvalle het ’n krisis geword.

“Dit is duidelik dat die polisie die oorlog teen misdaad verloor het.”

Jankielsohn meen daar is drie faktore wat dinge vererger.

Vir eers aanvaar politici steeds nie die erns van plaasaanvalle nie, tweedens het die Suid-Afrikaanse samelewing sy morele kompas verloor en het gewelddadige misdaad deel van ons alledaagse bestaan geword.

En derdens laat die regstelsel slagoffers en hul families in die steek.

Die polisie kry ook nie die nodige steun wat hulle benodig soos voertuie en opgeleide personeel nie.

Wouter Wessels, VF Plus-LP, sê die party veroordeel die grumoord op die egpaar.

“Ons as party wil weer ’n ernstige beroep op die regering doen om daadwerklik op te tree.

“Landelike veiligheid moet opgeskerp word. Dit is veral die landelike bevolking wat uitgelewer is.

“Die VF Plus sal die dubbele Van der Berg-moord met die provinsiale kommissaris van die polisie en op nasionale vlak met die polisiekommissaris opneem.”

Niemand is nog in verband met Vrydagaand se moord in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Plaasmoord  |  Misdaad  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.