Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Namibië geskok ná 2 se skietdood op kampus

Wat veronderstel was om ’n gewone Maandagoggend te wees, het in ’n tragedie ontaard toe twee direkteure van die Namibiese Instituut vir Mynwese en Tegnologie (NIMT) in ’n koeëlreën gesterf het.

Eckhart Mueller, uitvoerende direkteur van die Namibiese Instituut vir Mynwese en Tegnologie (NIMT). Foto: Verskaf

’n Onbekende aanvaller het hulle koelbloedig op die kampus van die NIMT op Arandis naby Swakopmund in Namibië doodgeskiet.

Volgens die Namibiese Persvereniging (NAMPA), die nasionale nuusagentskap in Namibië, het die polisie in Erongo bevestig dat die 72-jarige Eckhardt Mueller, uitvoerende direkteur van NIMT, en sy adjunk, Helmo Hellwig (60), Maandag tussen 06:00 en 06:30 voor ’n kantoorblok op die kampus doodgeskiet is.

Hoofinspekteur Daniel Gurirab van die Namibiese speurdiens sê die twee mans is met koeëlwonde in hul koppe en lywe deur hul kollegas gevind. Volgens Gurirab is agt patroondoppies van ’n 9 mm-pistool op die toneel gevind. “Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die motief vir die moorde word ondersoek,” sê hy.

The Namibian berig dat die studente en personeellede ná die voorval huis toe gestuur is.

Volgens Die Republikein het adjunk-kommissaris Edwin Kanguatjivi, nasionale polisiewoordvoerder, gesê dat nege skote op die mans geskiet is. Dit wil lyk asof Mueller en Hellwig op die punt was om die voordeur van die administratiewe gebou oop te sluit toe die aanvaller(s) op hulle losgebrand het. ’n Getuie het “baie skote gehoor wat geskiet is”.

Die toneel van die dubbele moord op die kampus van die NIMT in Arandis naby Swakopmund in Namibië. Foto: Verskaf

Informanté berig dat dit die eerste skietvoorval by ’n hoëronderwysinstelling in Namibië is.

Dit het skokgolwe deur die land gestuur met mense wat hulle tot sosiale media gewend het om hul skok en afgryse daaroor uit te spreek.

Ene Maye het op Facebook gevra waar die veiligheidswagte van die kampus was. Lydia het geskryf dat die mans se dood ’n permanente leemte in onderwyskringe laat. “Wie gaan nou daardie leemte vul?” vra sy.

Jariko Kahengava het opgemerk: “En ons het gedink wat in ander lande gebeur, kan nie hier gebeur nie . . .”

Meer oor:  Namibië  |  Swakopmund
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.