Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Natasha Mans se huiswerker sterf in tref-en-trap

Die huiswerker van die vermoorde Natasha Mans en een van die laaste mense wat haar lewend gesien het, is Saterdagnag in ’n tref-en-trap-ongeluk in Bainsvlei naby Bloemfontein dood.

Die vrou, wat net as Alina (32) geïdentifiseer is, se lyk is Sondagoggend langs Kenilworthweg in Bainsvlei naby die huis wat Mans (41) voor haar dood met Dennis Casten, haar vriend, gedeel het, gekry.

Natasha Mans. Foto: Facebook

Alina, wat ook as skoonmaker vir Mans se skoonmaakonderneming gewerk het, het ook op die erf in Castenweg, Groenvlei, gebly.

Haar dood kom sowat vier maande ná die steeds onopgeloste moord op haar werkgewer. Alina was van die laaste mense wat Mans lewend gesien het op die dag van haar verdwyning toe Mans haar op 31 Mei by ’n kerk in die stad afgelaai het.

Mans het daarna spoorloos verdwyn en haar lyk is sowat twee weke later in Casten se erf in Bainsvlei gevind. Sy het ’n skietwond in haar bors gehad. Sy is vermoedelik in ’n yskas of vrieskas gehou voordat haar lyk gevind is.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die vrou en haar man was op pad huis toe van ’n kuierplek in die omgewing.

Albei was glo onder die invloed van drank en die man het moeg geword van die loop en het besluit om langs die pad te slaap. Alina het egter aanhou stap en is toe deur ’n bakkie getref.

Volgens Covane het die bestuurder van die bakkie haar lyk uit die pad gehaal en weggery.

“Die lyk is vanoggend (Sondagoggend) deur lede van die militêre polisie van Tempe (-weermagbasis) gevind en hulle het die polisie gebel.

“Die man het waarskynlik verby sy vrou se lyk gestap sonder om dit te weet,” sê Covane.

Volgens hom is stukke van die voertuig op die toneel gevind.

Die man wou nie gister kommentaar lewer nie.

’n Klag van strafbare manslag word ondersoek.

  • Casten het op 13 Junie op Mans se lyk in die verste hoek van sy erf in Groenvlei buite Bloemfontein afgekom byna twee weke nadat hy haar as vermis aangemeld het. Niemand is nog vir die moord in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.
Meer oor:  Natasha Mans  |  Bloemfontein  |  Bainsvlei  |  Tref-En-Trap  |  Huiswerker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.