Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Natasha Mans: Wat het in laaste 3 uur gebeur?

Met die eerste deel van die legkaart van die moord op Natasha Mans wat begin in plek val, sal die fokus van die ondersoek na haar moord nou wees op die ure nadat Mans teruggekom het by die huis.

’n Volledige tydlyn, wat uit beeldmateriaal van verskeie kringtelevisiekameras in die omgewing saamgestel is, wys vir die eerste keer die laaste drie uur wat Mans (41) lewend gesien is.

Op van die beeldmateriaal kan gesien word hoe sy op 31 Mei, die dag van haar verdwyning, met haar silwer Audi verskeie kere van die huis in Castenweg, Groenvlei, Bloemfontein, af ry en terugkeer.

Natasha Mans. Foto: Argief

Dennis Casten, Mans se vriend met wie sy ’n huis gedeel het, het twee weke nadat hy haar as vermis aangemeld het, op haar lyk in sy erf afgekom.

Die polisie het vroeër gesê hulle vermoed haar lyk is eers in ’n vrieskas gehou voordat dit onder die boom gelos is. Mans het ’n skietwond in die bors gehad en ’n rewolwer is langs haar lyk gevind.

Die lykskouing het later gewys sy is dood weens die skietwond en dat sy ook kneuswonde onder haar arms en bloed in haar bors gehad het.

Leon Rossouw, private speurder wat ook help met die ondersoek, sê hy het twee weke lank meer as 11 000 videogrepe van sewe kringtelevisiekameras in die gebied naby hul huis bestudeer om die tydlyn saam te stel.

Die videogrepe wys dat sy nooit haar huis te voet óf per motor verlaat het nadat sy om 09:08 dié oggend by die erf ingery het nie. Geen vreemde voertuig óf mens is ook in dié tyd naby hul huis gesien nie.

Volgens Rossouw gaan hy nou daarop fokus op hoe Mans van die huis af verdwyn het omdat daar geen beeldmateriaal is wat wys sy loop by die erf uit nie.

“Ek moet nou vrae probeer beantwoord soos wat het gebeur nadat sy by die huis gekom het, hoe is sy weg by die huis en waar was sy voordat haar lyk gevind is,” sê Rossouw.

Natasha het dié foto van haar en Dennis Casten op 9 Mei vanjaar op haar Facebook-blad gedeel.

Van die kameras in Castenweg wys Mans se motor waar dit omstreeks 06:46 ry op pad na die Afrikaanse Protestante kerk in Uitsig om haar huiswerker af te laai. Daarna (07:36) keer sy terug huis toe om iets te gaan haal wat sy vroeër vergeet het.

Om 07:54 ry sy weer om R2 850 by ’n kitsbank by die Total-vulstasie in Langenhovenpark te trek en ry dan huis toe. Sy het dié geld, behalwe vir R50, by Casten se rekenaar in sy kantoor by sy huis gelos.

Om 08:20 ry sy weer kerk toe en keer omstreeks 09:06 terug huis toe nadat sy vier minute vroeër eers by dieselfde vulstasie in Langenhovenpark stilgehou het om data by die winkel te koop.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het R60 se Vodacom-data by die winkel gekoop voordat sy huis toe is. Sy was alleen by die huis op die dag van haar verdwyning.

Casten was by die werk.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die ondersoek duur voort.

  • Enigeen met inligting wat kan help met die ondersoek word gevra om Rossouw te bel by 079-240-3491.

Meer oor:  Natasha Mans  |  Leon Rossouw  |  Bloemfontein  |  Moord-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.