Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Natasha se lyk moontlik in vrieskas gehou
Polisiebeamptes staan Woensdagmiddag laat en praat op die toneel in Groenvlei, buite Bloemfontein, waar Natasha Mans se lyk gevind is. Foto: André Damons

Natasha Mans (46), wat sowat twee weke gelede spoorloos verdwyn het, is vermoedelik eers in ’n vrieskas gehou voordat haar lyk Woensdag met 'n skietwond in die bors in haar vriend se erf in Groenvlei, Bloemfontein, gevind is.

Natasha Mans Foto:

Die polisie het Woensdagmiddag net voor 14:00 afgekom op Mans se lyk onder ’n boom agter in haar vriend Dennis Casten se erf in Castenweg.

Casten, wat Mans as vermis aangemeld het, het Woensdagoggend glo op haar lyk afgekom en toe die polisie ontbied.

Netwerk24 het verneem sy hele erf is Woensdagaand as ’n misdaadtoneel verklaar en hy moes sy huissleutels glo aan die polisie oorhandig.

Mans het einde verlede maand spoorloos verdwyn. Sy het glo haar vermoorde dogter, Noeline Koekemoer (15), se as by haar gehad.

Natasha en Talana Mans. Foto: Conrad Bornman

Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van moord word ondersoek omdat ’n voorlopige ondersoek daarop dui dat Mans in die bors geskiet is. Sy is ook nie geskiet op die plek waar haar lyk gevind is nie.

Haar lyk was koud en die vermoede bestaan dat sy eers in ’n vrieskas gehou is voordat sy onder die boom gelos is.

Sy is vermoedelik eers onlangs vermoor.

Mans se lyk is in die verste hoek van die erf gevind. Polisiebeamptes en patoloë was meer as ’n uur daar besig voordat die lyk verwyder is.

Volgens Marope is die rewolwer, wat by haar lyk gevind is, vermoedelik nie die moordwapen nie.

’n Nadoodse ondersoek sal bepaal wanneer Mans vermoor is.

Ek het altyd geweet sy sou nooit haar eie lewe neem nie.

Talana Mans, Natasha se tante wat sy sedert haar tienerjare “Mamma” noem, was Woensdagaand te emosioneel om te praat.

Jolanca Jacobs, ’n vriendin van Mans, het gesê dit is baie hartseer. “Ek het altyd geweet sy sou nooit haar eie lewe neem nie. Sy was ’n sterk mens.” 

Marope kon nie Woensdagaand bevestig of Mans nog dieselfde klere gedra het as waarmee sy sowat twee weke gelede verdwyn het nie.

Polisiekundiges van Pretoria sal na verwagting Donderdag na Bloemfontein reis om met die ondersoek te help.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Polisiebeamptes stap Woensdagmiddag terug van die plek (die boom op die agte grond) waar Natasha Mans se lyk vroeër gevind is. Foto: André Damons
Polisiebeamptes is Woensdag op die toneel in Groenvlei buite Bloemfontein waar Natasha Mans se lyk gevind is. Foto: André Damons
Polisiebeamptes op die plek onder die boom waar Natasha Mans se lyk Woensdag gevind is.Foto: André Damons
Meer oor:  Natasha Mans  |  Dennis Casten  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.