Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Neef vertel oor Cremer-verdagte

Die neef van een van die drie beskuldigdes van die moord op die perderuiter Meghan Cremer is in skok oor die feit dat een van sy eie familielede by die gruweldaad betrek word.

Meghan Cremer

Christo Sias het Vrydag met Rapport op die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas in Philippi gepraat terwyl haar vriende by die hoofingang van die plaas begin aankom het om blommeruikers by die hek te plaas.

Meghan, oorspronklik van Knysna, het die afgelope vyf jaar op die plaas gewoon terwyl sy besig was met haar meestersgraad in mikrobiologie aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het die perdeplaas verlede Saterdag omstreeks 18:24 in haar Toyota Auris verlaat en is nie weer gesien nie. Die motor is Maandag in die besit van Jeremy Sias (27), Charles Daniels (36) en Shiraaz Japtha (34) gevind.

Twee van hulle is glo lede van die gevreesde Six Bob-bende.

Die mans het ook geld met die oorledene se bankkaart onttrek. Sias het Meghan se liggaam Donderdag in ’n vlak graf by ’n nabygeleë sandmyn gaan uitwys. ’n Tou was om haar nek en haar hande agter haar rug gebind.

Christo Sias, ’n werker op Vaderlandsche Rietvlei, sê hy kan nie glo dat sy neef Jeremy Sias by die moord betrek word nie. Foto’s: Edrea du Toit

Christo en sy neef Jeremy (Bompie) Sias bly in ’n plakkersbuurt daar naby en het saam op Vaderlandsche Rietvlei gewerk.

Christo sê hy het Maandag gehoor dat Meghan vermis word.

Hy sê sy neef se ma is twee maande gelede oorlede. Sy pa het jare gelede al weggeloop.

“Jeremy was nie ’n stout klong nie. Hy gebruik nie drugs nie; drink net bier en brandewyn. Ek kan dit net nie glo dat hy involved is nie.”

Vrydagmiddag is daar ’n informele plegtigheid voor die plaashek gehou waar vriende en familie saamgekom het. Die trane het vrylik gevloei toe een van die staljongens Meghan se twee perde, Mr. Blue en Riku, na haar ma, Gill, gebring het om te streel.

Sy wou nie oor haar dogter praat nie, maar toe James Mohr, een van die mense wat saam met Meghan op die plaas geloseer het, vertel hoe lief hy vir Meghan was en hoe baie hulle vir mekaar omgegee het, het Gill met ’n wankelrige stem uitgeroep: “Jy is die kleinboetie wat Meghan nooit gehad het nie!”

Gill Cremer, die ma van die vermoorde Meghan, sit ’n rooi lint om ’n beeld.

Danielle Steyn, Meghan se beste vriendin, was ontroosbaar.

Sy het vroeër die week op sosiale media geskryf: “Ons harte is seer. Ons het deur die nag en dag vir jou gesoek! Asseblief kom huistoe ons lieflike Megs! Ons mis en lief jou so baie!!”

Nog ’n perderuiter, Jaime Lilford, vertel hoe die hele perdegemeenskap vier dae lank na Meghan gesoek het, “hoe die tyd verby en verby gegaan het en ons haar nie kon vind nie”.

“Toe die ongeloof om die slegte nuus toe te moes verneem.”

Die ryskool se bestuurder, Linda Mohr, sê die perdrygemeenskap is “in stukke” oor wat gebeur het.

“Haar hond, Bella, gaan haar baie mis. Meghan het haar langs die pad opgetel en versorg.”

Sy sê die plaas was hul “hemel op aarde; al wat hulle in die wêreld wou hê”.

’n Klipgooi van die plaas het Rapport, met ’n paadjie wat vol vuil modderpoele staan, die groep sinkhuise op die buurplaas waar Jeremy Sias gebly het, besoek. Die drie beskuldigdes verskyn Donderdag in die Athlone-landdroshof vir hul borgtogaansoek.

Meer oor:  Jeremy Sias  |  Charles Daniels  |  Meghan Cremer  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.