Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Net 2 uit 100 kapers gevonnis

Wetstoepassing het so te sê in duie gestort met vervolgingskoerse van so laag soos 2% vir ernstige misdade, blyk uit die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se jaarverslag.

Behalwe dat al hoe minder misdadigers gevang word, het die land se streeks- en distrikshowe in die laaste jaar oënskynlik byna tot stilstand geknars.

Daar was in die 2018-’19-boekjaar ’n skerp afname in nuwe sake wat by die aanklaers uitgekom het: van 888 053 sake tot 792 895 (’n 10,7%-daling).

Boonop het vrot ondersoekwerk of brouwerk van aanklaers ’n historiese rekord – of eerder laagtepunt – bereik: ’n Astronomiese 103 760 strafsake is bloot teruggetrek, 9% meer as in die vorige jaar.

En om dit alles te kroon kon die howe 14% minder sake afhandel, al was daar ’n toename in pleit­ooreenkomste en alternatiewe geskilbeslegtingsmaatreëls.

‘Die suksesse in vervolgings is erg misleidend.’

Die situasie is so chaoties dat die land se strafhowe gemiddeld net drie uur en vier minute per dag gesit het – twee minute meer as die vorige jaar.

Luidens die NVG se jaarverslag wat Dinsdag by die parlement ingedien is, styg die NVG se sukseskoers vir vervolgings in verskeie soorte misdade. Vir moordverhore het die NVG in 78,4% van die sake ’n skuldigbevinding verseker en vir seksuele misdade het die koers van skuldigbevindings gestyg van 65,8% in 2013 tot 74,4% vanjaar.

Maar adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, het toegegee dat dié “suksesse” erg misleidend is.

Rapport se ontleding van die jaarverslae van die polisie en NVG wys ’n skrikwekkende prentjie:

  • Die gevreesde trio-misdade – motorkapings, huisrooftogte en rooftogte by sakeondernemings – bly byna heeltemal ongestraf. In dieselfde jaar wat daar 16 026 motorkapings was, was die getal verhore vir kapings net 3% hiervan. Daar was net 382 skuldigbevindings – gelykstaande aan 2,3% van die kapings in dieselfde tydperk.
  • 22 431 mense is in die afgelope jaar in hul huise beroof, maar daar was net 1 602 vervolgings, oftewel 7,1% van die getal aanvalle. Van die huisrowers wat aangekla is, is 1 045 of net 4,6% van die getal huisrooftogte skuldig bevind.
  • By sakepersele is daar in dié jaar 19 991 rooftogte aangemeld, maar daarvan het net 3,6% of 771 vermeende rowers in die hof beland. Uiteindelik is 601 of 3% van die rowers skuldig bevind.
  • Van 52 420 seksuele misdade wat in dié jaar by die polisie aangemeld is, het weinig gekom. Die howe het 4 724 mense skuldig bevind, gelykstaande aan net 9% van die voorvalle.
  • Minder as 20% van die sowat 21 000 moorde wat jaarliks gepleeg word, beland in die hof.

Batohi het aan LP’s gesê dis verstaanbaar dat mense nie veilig voel nie. “Ons durf nie vir onsself regmerkies gee oor die hoë skuldigbevindingskoers (terwyl die vervolgingskoers so laag is) nie.

“As dit waar is dat misdaad toeneem soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê, sal die twee departemente moet bymekaarkom om te praat oor die redes waarom daar minder sake in die strafregstelsel is. Die NVG kry die gevoel dat die land die stryd teen georganiseerde misdaad verloor,” het sy aan die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê.

Uit die NVG se verslag blyk dit dat die instelling heeltemal uitgehol is van kundigheid en hulpbronne. Die NVG het net ’n handvol aanklaers oor wat komplekse kommersiële sake kan behartig. Al het die Spesiale Ondersoekeenheid 293 sake van korrupsie en bedrog by munisipaliteite na die NVG verwys, kon net nege daarvan hanteer word. (Lees die volledige berig in Sake-Rapport.)

Nie ’n enkele aanklaerspos is sedert 2016 gevul nie omdat daar nie geld was nie. Die NVG het 4 408 gevulde poste, en 1 142 is tans vakant.

Die personeel gebruik al hoe meer die NVG se gesondheids- en welstandprogram omdat minder personeellede meer werk moet doen, lui die verslag.

Die verslag benadruk die NVG se gebrek aan voldoende begrotingstoewysings en sê hy moes R77 miljoen oorbestee op vergoeding.

Aanklaers se moreel is laag, waarsku die verslag.

Batohi sê die NVG het nou ’n spesiale fokus op die vervolging van korrupsiesake om beleggersvertroue te herstel.

Die NVG kon in 2018-’19 net 210 staatsamptenare aan korrupsie skuldig bevind. Hulle kon ook 17 mense in die private sektor aan korrupsie van meer as R5 miljoen skuldig bevind.

Die departement van justisie het die afgelope week aangekondig hy het R20 miljoen bewillig sodat die NVG die dienste van vier top-advokate kan bekom om te help met vervolgings van staatskapingsake. Hulle is advv. Tembeka Ngcukaitobi, Wim Trengove, Ngwako Maenetje en Geoff Budlender.

Meer oor:  Shamila Batohi  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.