Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Net 3 dae oor van amnestie, waarsku polisie

Die polisie het Vrydag gewaarsku dat vuurwapeneienaars eerder van die laaste drie dae van die amnestietydperk gebruik moet maak om te voorkom dat hulle met onwettige vuurwapens in hul besit gevang word.

Die amnestietydperk eindig Sondag.

Kol. Brenda Muridili, Gautengse polisiewoordvoerder, sê dit is nog nie duidelik of en wanneer ’n nuwe amnestietydperk afgekondig gaan word nie.

Vuurwapeneienaars het Donderdag en Vrydag kampstoele saamgebring om meer gemaklik hul beurt af te wag in die ry voor ’n polisiekantoor wat help met die inneem van vuurwapens. Foto: Johan de Smidt

“Volgens die polisie is dit veiliger vir die eienaars om eerder seker te maak dat hulle hul wapens inhandig sodat hulle nie die wet oortree nie.”

Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër aan die parlement geskryf en gevra dat die amnestietydperk verleng moet word.

Dié proses is volgens Muridili tydrowend.

“Dit kan maande duur en dan moet die besluit eers in die Staatskoerant gepubliseer word.”

Sy sê polisiekantore wat vuurwapens mag ontvang, sal tot Sondag oop wees om laatkommers te help.

Cele het wel intussen bevestig dat aansoeke van vuurwapeneienaars vir wie die grasietydperk van 90 dae om hul lisensies te hernu tydens die inperkingstydperk verstryk het, daarna aanvaar sal word sonder dat die aansoeker benadeel word.

Volgens Johan de Smidt het hy die hele Donderdag in dié ry gestaan by die Brooklyn-polisiekantoor sonder dat hy gehelp kon word voordat die kantoor om 16.00 gesluit het. Foto: Johan de Smidt

Op 7 April het die polisie ook ’n ander bevel uitgereik dat die lisensiëring van vuurwapens nou weer hervat mag word.

Polisiekantore moet dus weer hernuwingsaansoeke van vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate aanvaar.

Marnus Kamfer, AfriForum se risikobestuurder vir gemeenskapsake, sê hy word oorval deur oproepe van wapeneienaars wat raad vra.

Een van hulle is Johan de Smidt, wat kontrakwerk in verskeie ander Afrika-lande doen.

“Ek is nie altyd in Suid-Afrika nie, en noudat ek hier is, is dit onmoontlik om reg te kom,” sê De Smidt.

Hy het Donderdag vroegoggend by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria begin toustaan, maar was teen 16:00, toe die kantoor sluit, steeds nie gehelp nie.

Franz Bülow (47) en Coenraad Klopper (52) – met sy jaggeweer – staan Vrydag in ’n ry voor die Garsfontein-polisiekantoor in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Vrydagoggend was daar al meer as 50 mense van 06:00 in ’n ry voor dié kantoor.

By die Garsfontein-polisiekantoor, ook in Pretoria, was die ry bietjie korter.

Volgens Abraham Visser (49), vuurwapenbestuurder van die Brinant-groep, dra die Covid-19-pandemie by tot die verwarring oor wat hulle te doen staan.

“Die probleem is nie op stasievlak nie, maar eerder by die hoofkantoor – hulle is die mense met die antwoorde en dit is onmoontlik om hulle telefonies in die hande te kry,” sê Visser.

Hy het in die ry gestaan om drie vuurwapenlisensies vir die veiligheidsmaatskappy te hernu.

Volgens Muridili is merkbaar minder wapens tydens die amnestietydperk ingehandig as vorige kere en die polisie skryf dit toe aan mense se bewegings wat ingeperk is.

Sedert die begin van die huidige amnestietydperk is 19 590 vuurwapens by die polisie ingehandig.

Meer oor:  Polisie  |  Kol. Brenda Muridili  |  Vuurwapeneienaars  |  Amnestie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.