Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Net span nouer om moordenaars van Valke-kaptein

Die gereg se net span al hoe nouer om een van die vermeende moordenaars van ’n kaptein van die Valke wat byna ’n jaar gelede in ’n huis in Rocklands in Bloemfontein van sy polisiebakkie beroof en doodgeskiet is.

Die ander verdagtes, waaronder Ratebeko Simon Masiu, het almal vermoedelik na Lesotho gevlug waar hulle nou skuil.

Wyle kapt. Qeya Jonas Tshabalala (52), wat aan die Valke in Bloemfontein verbonde was.

Masiu is die aand van 24 Mei verlede jaar in die skietery gewond. Hy is vermoedelik deur een van sy makkers raakgeskiet.

Masiu se bloed is in die huis waar kapt. Qeya Jonas Tshabalala (52) geskiet is, gekry. Dit is ook in Tshabalala se bakkie gekry wat dié aand naby die Jimmy Roos-skool by Dewetsdorp gevind is, asook in ’n rooi Toyota Tazz-motor waarmee die rowers by die huis in Rocklands stilgehou het.

Dit blyk alles tot dusver uit die verhoor van Sprinkaan Maema (33), wat voor waarnemende regter Henriëtte Murray in die Vrystaatse hooggeregshof skuld op aanklagte van moord en roof ontken.

Albert Mafereka (50), ’n taxi-eienaar van Bloemfontein en eienaar van die rooi Tazz, het Woensdag getuig hy ken vir Maema. Hulle het in buurdorpe in Lesotho grootgeword.

Mafereka ken ook vir Masiu. Hulle het in dieselfde dorpie grootgeword.

Hy meen Maema en Masiu ken mekaar en ook dat Maema sy taxi-bestuurder ken wat dié aand die rooi Tazz bestuur het.

Dié het die motor kort ná die moord teruggebring en is vir “dringende sake” na Lesotho. Hy het hom sedertdien nog nie weer gesien nie.

Uit ander getuienis oor inligting van die opspoorstelsel in Tshabalala se bakkie blyk dit die bakkie het van die huis in Rocklands eers ’n draai gery (vermoedelik om Masiu in die Tazz oor te laai), voordat dit teen ’n hoë spoed op die Dewetsdorp-pad gery het.

’n Polisieman op patrolliediens het die voertuig gesien en dit gevolg. Die bakkie het na die skool afgedraai. Die bestuurder het dit langs die pad gelos en gevlug.

Voor sonop die volgende oggend het ao. Jan Basson van die Valke vir Maema sowat 20 km van waar die bakkie gekry is, op die Dewetsdorp-pad gesien stap.

Dit was vir hom vreemd. Nadat hy hom ondervra het, het hy hom in hegtenis geneem, is getuig.

Adv. Moseme Lencoe kla aan. Max Modise van Regshulp SA tree vir Maema op. Die verhoor duur voort.

* Die polisie is in besit van DNS-toetse van Masiu uit ’n vorige ondersoek teen hom en kon hom dus identifiseer.

Meer oor:  Valke  |  Rocklands  |  Bloemfontein  |  Skietery  |  Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.