Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nie eens ’n handelaar nie, wat nog te sê ’n kar!

’n Vrou van Mpumalanga is haar laaste bietjie geld kwyt nadat sy ’n Ford Figo by ’n Oos-Randse motorhandelaar gekoop het wat skynbaar nie bestaan nie.

Die kastige handelaar se naambord in Springs.
Die kastige handelaar se naambord in Springs.

Tientalle motorkopers is glo die afgelope maand met dieselfde slenter gevang. Boonop lyk dit of dié handelaar, Quality Used Cars, die handelsmerk gebruik van ’n gelyknamige onderneming in New Caney, Texas, VSA.

Ilse van Greunen (49) het R24 000 vir die motor betaal.

Die eerste teken dat iets fout is, was toe iemand van Quality Used Cars haar bel en sê hulle het ’n berekeningsfout gemaak en sy moet nog R6 000 betaal vir BTW. Dié persoon het onderneem om die motor by Van Greunen te gaan aflewer, maar dit het nooit gebeur nie.

Van Greunen het haar dogter, Juanri Joubert (31), na die handelaar se adres in Springs gestuur. Toe Joubert die plek nie kan kry nie, het sy hulle gebel en aanwysings gevra.

“Hulle het vir  Juanri gesê sy kan nie sonder ’n afspraak opdaag nie,” sê Van Greunen.

Nou blyk dit die plek bestaan glad nie en minstens nog 30 mense is net die afgelope maand op ’n soortgelyke manier geflous. Ander motorhandelaars in die omgewing sê dit gaan al maande só.

Van Greunen is verslae. “Ek kan nie glo dit is aan my gedoen nie. Ek is ’n stukkende mens wat hier met jou praat,” het sy die afgelope week gesê.

Sy het ’n bedrogklag ingedien.

Die tweedehandse, 2011-model Figo  wat Van Greunen “gekoop” het, is op Facebook geadverteer. Ná selfoon- en WhatsApp-gesprekke is die “kontrak” aan haar gestuur. Kort nadat sy op 21 September met ’n verkoopsman, ene Karabo Maleke, gepraat het, is sy begin druk om te betaal.

“Hulle het my aanhoudend gebel en selfoonboodskappe gestuur om die deposito te betaal, anders sou hulle die motor saam met ander na ’n veiling in Rustenburg neem,” sê sy.

Sy het die volle bedrag oorbetaal.

Op ’n faktuur wat ook per WhatsApp aan haar gestuur is, is die VIN-, enjin- en registrasienommers nie ingevul nie.

Maleke het die afgelope week by navraag telefonies aan Rapport gesê hy is nie seker wat aangaan nie en die “kar staan steeds op die vloer”.

E-posse aan ’n adres wat hy verskaf het vir verdere navrae is onafgelewer.

Rapport is Vrydagoggend na die straatadres in Springs waar Quality Used Cars veronderstel is om geleë te wees. Op die plek is daar ’n tak van Akso Cars, ’n ander motorhandelaar.

Frans Harris, takbestuurder, sê hulle is die afgelope maand in bedryf. In dié tydperk was daar volgens hom reeds sowat 30 mense wat kom soek het na motors wat hulle gekoop het. “Mense ry van Pretoria en Witbank en kom hier aan; net om niks te kry nie.”
Hy sê Quality Used Cars adverteer motors vir ongelooflik goedkoop. “Hulle sal bv. ’n Golf 7 GTI vir R40 000 verkoop. Jy sal nêrens daai prys kry vir daai kar nie.”

Toe Rapport hom vra waarom hy die verkeerde adres verskaf het, het Maleke gesê hy sou iemand stuur om die joernalis te gaan haal. Niemand het egter opgedaag nie. In nog ’n oproep het Maleke gesê sy bestuurder is besig met ’n kliënt en Rapport kan nie sonder ’n afspraak opdaag nie.

Lizet Claassen, bestuurder van 121 Motors in Springs, sê baie sulke slenters doen die afgelope vier, vyf jaar die ronde. “(Quality Used Cars) sal byvoorbeeld ’n kar wat R300 000 werd is vir R70 000 adverteer.”

Kapt. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n bedrogklag is teen Quality Used Cars ingedien.

Meer oor:  Ilse Van Greunen  |  Quality Used Cars  |  Swendelaar  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.