Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nie net dié 2 verantwoordelik vir treinbrande nie

Die tieners wat in verband met die onlangse brand op die Kaapstad-stasie aangekeer is, is nie die enigstes wat vir die vlaag aanvalle op die spoornetwerk die afgelope vier jaar verantwoordelik is nie, sê die United National Transport Union (Untu).

Die vakbond het die inhegtenisneming van die ’n 14- en 15-jarige verwelkom ná die brand op 28 November waarin 18 treinwaens verwoes is.

Untu sê hy het die polisie al herhaaldelik gevra om sy misdaadintelligensie-eenheid in te span om die betrokkenheid van “’n derdeparty” by die brande en plundering van die spoornetwerk te ondersoek.

Die vakbond beweer dat hierdie “derdeparty” die treindienste in die Wes-Kaap en die provinsie se kwesbare ekonomie vir eie gewin wil ruïneer.

“Dit is jammer dat hulle eers aangekeer is ’n week nadat die Passasierspooragentskap van Suid Afrika (Prasa) beeldmateriaal van die vermeende brandstigters en ’n beloning van R100 000 uitgeloof het vir inligting wat tot hul inhegtenisneming en suksesvolle vervolging kon lei,” het Steve Harris, sekretaris van Untu, gesê.

treine brand
Een van die treine wat op 28 November op Kaapstad-stasie gebrand het. Foto: Kaapstad-brandweer

Volgens die vakbond het daar ná die bewind van die voormalige misdaadintelligensiehoof, Richard Mdluli, nie veel oorgebly van die polisie se vermoë om dié soort misdade te ondersoek nie.

Die Zondo-kommissie na staatskaping het in September vanjaar getuienis gehoor dat Mdluli glo die eenheid se geheime fonds vir veiligheidsopknappings, oorsese reise en voertuie geplunder het.

Volgens Harris het die polisie nog geen verantwoordelikheid aanvaar daarvoor dat sy eenheid vir spoorbeskerming nie sy mandaat met Prasa nagekom het nie.

Dié eenheid moet onder meer sigbare polisiëring op die spoornetwerk bied en is verantwoordelik vir misdaadbekamping en die veiligheid van pendelaars, spoorvrag en die vervoerstelsel.

Harris sê die Prasa-direksie, wat ontbind is, het Untu voorheen ná ’n reuse-vlaag van vandalisme en skade aan infrastruktuur verseker dat lede van die eenheid op 11 November op perronne ontplooi sou word.

Dit het gevolg op ’n vroeëre besluit om die dienste van meer as 20 private veiligheidsmaatskappye aan die einde van Oktober te beëindig.

“Untu-lede én pendelaars is die afgelope ses weke weerloos gelaat en aan misdadigers uitgelewer,” het Harris gesê.

Volgens Untu het die Wes-Kaap sedert 2014 al 213 treinwaens ter waarde van R6 miljoen elk weens brandstigting verloor.

Meer oor:  Kaapstad  |  Brandstigting  |  Metrorail
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.