Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Niemand aangekeer ná plaasaanval in Langkloof

Die polisie in die Oos-Kaap het nog nie ’n deurbraak gemaak in hul ondersoek na ’n plaasaanval wat die afgelope week in Krakeel in die Langkloof gebeur het nie.

Ondanks gerugte dat ’n voertuig voorgekeer is, wat glo in verband met die plaasaanval Donderdagaand gesoek word, het die polisie Sondag gesê niemand is tot dusver aangekla nie.

Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê die polisie het wel mense vir ondervraging ingeneem. Hy wou egter nie oor die omstandighede uitwei nie.

Netwerk24 het Vrydag berig vyf mans, waarvan twee gewapen, het Donderdagaand op Donald Strydom (60) en sy vrou, Marietjie (62), se plaas in Krakeel, sowat 10 km buite Joubertina, toegeslaan.

Die polisie in die Oos-Kaap het teen Sondag nog niemand in hegtenis geneem nadat ’n egpaar Donderdag op hul plaas in Krakeel in die Langkloof deur vyf mans aangeval en beroof is nie. Foto: Argief

Strydom is buite die plaashuis deur die vyf mans ingewag, waarna hulle hom tot binne die huis gelei is. Die aanvallers het Strydom aangerand terwyl hulle na waardevolle goedere gesoek het en hom later binne die instapkluis toegesluit.

Intussen het Marietjie, wat deur ’n venster gesien het hoe die gewapende mans haar man na die huis lei, by ’n sydeur na die motorhuis uitgeglip. Hier het sy die huisalarm met ’n afstandbeheerder geaktiveer. Die aanvallers het gevlug kort nadat die huisalarm begin loei het.

’n Bron het aan Netwerk24 gesê ’n Ford-bakkie, wat glo die aanvallers langs die pad afgelaai het voordat hulle die Strydoms op die plaas ingewag het, word in verband met die voorval gesoek.

Nkohli het by navraag bevestig die polisie ondersoek ’n voertuig wat moontlik van belang kan wees en het reeds inligting oor die voertuig se eienaar bekom, maar sê die betrokke voertuig is nog geensins met enige misdaadtoneel verbind nie.

“Op die oomblik word verskeie leidrade nog opgevolg en nog niemand is amptelik in hegtenis geneem nie,” sê Nkohli.

Meer oor:  Langkloof  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.