Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Niemand al vas ná aanval op oud-ANC-LP

Die polisie se eenheid teen ernstige geweldsmisdaad in Port Elizabeth is op soek na die aanvallers van die bejaarde Nocwaka Lamani, ’n gewese ANC-LP, wat ernstig aangerand is in ’n huisroof.

Minstens twee mense het Dinsdag op Lamani, wat van ’n rolstoel afhanklik is, toegesak in haar huis in Rulastraat, New Brighton.

Rulastraat in New Brighton waar Nocwaka Lamani, ’n gewese ANC-LP, in haar huis aangeval is. Foto: Google Maps

Teen Donderdagoggend kon die polisie nog nie ’n verklaring by haar kry nie. “Sy is redelik ernstig aangerand, haar gesig is heeltemal opgeswel. Sy is steeds in die hospitaal se waakeenheid, waar sy onder verdowing is,” sê kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder.

Die polisie sal later Donderdag probeer om ’n verklaring van Lamani te neem.

Lamani is Dinsdag tussen 12:00 en 12:40 aangeval.

Volgens die polisie se inligting het Lamani se oppasser gaan inkopies doen toe die aanvallers toeslaan.

Die oppasser het omstreeks 12:40 weer by die huis aangekom waar sy ’n bebloede en huilende Lamani aangetref het.

Beetge sê dit blyk dat die oppasser die veiligheidshek van die huis toegemaak het, maar nie gesluit het nie.

Lamani het glo twee mans in haar kamer gesien wat geld geëis het, maar die vermoede is dat daar nog rowers in die res van die huis was.

Lamani is deur die twee mans aangerand voordat hulle met haar beursie, ’n onbekende bedrag geld en bankkaarte gevlug het.

Gift Ngqondi, die ANC se provinsiale woordvoerder, het die aanval op Lamani ten sterkste veroordeel.

“Ons doen ’n beroep op diegene wat inligting het wat tot die inhegtenisneming van die booswigte kan lei, om dit aan die polisie te verskaf,” het Ngqondi gesê.

Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell-polisiegebied, het ook die aanval veroordeel en sê die veiligheid van bejaardes is nie net hul familie en oppassers se verantwoordelikheid nie, maar ook dié van die buurt en die gemeenskap.

Beetge het gevra mense moet seker maak hul veiligheidshekke is gesluit wanneer hulle die huis verlaat.

  • Enige persoon met inligting oor die roof en aanval op Lamani kan speurkapt. Jerome Mackay bel by 071 475 2015.
Meer oor:  Nocwaka Lamani  |  Port Elizabeth  |  Polisie  |  Oud-Anc-Lp  |  Geweldsmisdaad  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.