
Chantelle Ash en haar baba, Tasneem, is ’n week gelede vermoor. Foto: Verskaf
’n Week nadat ’n ma en haar baba van Mokopane in Limpopo vermoor is, is die polisie steeds op soek na die moordenaar(s).
Chantelle Ash (20) en haar agt maande oue baba, Tasneem, se lyke is verlede Donderdag in ’n kamer by die Maponya-lodge buite Mokopane deur werkers gekry.
Albei se hande was agter hul rûe vasgebind.
Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê hulle is verwurg.
Hy het Donderdag gesê ’n “reuse-soektog” is steeds onderweg na die moordenaar(s).
Netwerk24 het by ’n ingeligte bron na aan die moordondersoek verneem dat die polisie vermoed die moordenaar(s) het nie landuit gevlug nie.
Dít nadat Ash se ma, Annie Ash van Pretoria, gesê het dat ’n man van Bangladesj, wat die polisie met inligting in die ondersoek kan help, haar ’n week gelede gebel het en gesê het hy is op pad terug na sy geboorteland.
“Ons het inligting dat hy nog in Suid-Afrika is,” het die ingeligte bron aan Netwerk24 gesê.
Intussen is Ash en haar baba se lyke Woensdag vanaf Mokopane na Pretoria gebring waar hulle volgens die Moslem-geloof begrawe is.
Ash het in Oktober verlede jaar die Moslem-geloof aangeneem.

Die kamer waar ’n ma en haar agt maande oue baba buite Mokopane vermoor is. Foto: SAPD
Haar ma het gesê sy het nie ’n idee wat tot die moorde op haar dogter en kleindogter kon lei nie.
Ash het eers verlede jaar Mokopane toe verhuis. Sy het vroeër in Rustenburg in Noordwes gebly.
Haar ma het gesê Ash was in haar hoërskooldae ’n inwoner van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle. Sy het nie ná skool gewerk nie.
“Ek wil antwoorde hê oor wat met Chantelle en Tasneem gebeur het. Ek glo vas geregtigheid sal geskied,” het Annie gesê.
Ngoepe het gesê dat Ash, Tasneem en ’n man verlede Dinsdag omstreeks 19:00 in ’n grys motor by die hek van die Maponya-lodge in die Masodi-nedersetting buite Mokopane afgelaai is. Hulle het ’n kamer vir net een aand gehuur.
Werkers het verlede Woensdag aanvaar hulle het die kamer ontruim. Hulle het Donderdagoggend in die kamer op die lyke van Ash en Tasneem afgekom. Die man wat by hulle was, was skoonveld.
Enigiemand met inligting kan lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 bel.