Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog 15 mortiere in Oos-Kaapse dam gevind

Nóg 15 mortiere is Maandag in die Strelitziadam in Uitenhage in die Oos-Kaap deur die polisie opgegrawe.

Een van die mortiere wat in die Strelitziadam gevind is.

Die polisie se ondersoek en dié vonds volg nadat drie mortiere tussen Vrydag en Saterdag in dié dam deur twee mense gevind is, wat nie besef het wat dit is nie en dit boonop nog vervoer het.

Volgens die polisie se inligting blyk dit dié drie mortiere was lewendig en kon enige tyd afgegaan het.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het Saterdag in ’n verklaring gesê die polisie se bomverwyderingseenheid in Port Elizabeth is in kennis gestel en die mortiere is onskadelik gestel.

Ná Maandagoggend se soektog by die dam het brig. Tembinkosi Kinana, provinsiale polisiewoordvoerder, bevestig dat die bomverwyderingseenheid nóg 15 mortiere in die modder gevind het.

Dit het die totaal tot 19 laat styg van mortiere wat by die dam aangetref is. Buiten die afgelope naweek se drie en Maandag se 15 mortiere, het die bomverwyderingseenheid voorheen ook een mortier by die dam gevind.

Die 15 mortiere wat Maandag deur die polisie in die Strelitziadam gevind is.

Hy sê die soektog was teen Maandagmiddag afgelas en meen dit is moeilik om te skat of nog mortiere of ander ammunisie by die dam is. “Ons sal die situasie dophou en deur die ondersoek gelei word. ’n Mens verwag nie om dié groot getal op een gegewe plek te vind nie. Dit is belangrik om so gou as moontlik vas te stel wie dit daar gelos het en hoekom.”

Dit was Maandagmiddag onduidelik of al 15 mortiere nog lewendig was.

Die drie mortiere wat tussen Vrydag en Saterdag gevind is, was volgens Swart nie in Suid-Afrika vervaardig nie. Kinana kon egter nie bevestig wat die oorsprong van die jongste 15 mortiere is nie. “Die kenners moet nog ’n ondersoek hou,” sê Kinana.

Dié dam, wat by ’n openbare speelpark in die dorp geleë is, is ’n gewilde gebied wat deur drawwers en vir uitstappies met honde gebruik word.

Gate in die modder in Strelitziadam was Maandagmiddag sigbaar nadat die polisie vir nog mortiere gesoek het. Foto: Lulama Zenzile
Die Strelitziadam in Uitenhage. Foto: Lulama Zenzile

Die afgelope naweek se eerste twee mortiere is Vrydag by die polisie ingehandig, terwyl ’n derde mortier Saterdag deur ’n hengelaar gevind is. Die hengelaar het die polisie in kennis gestel en die bomeenheid is weer soontoe.

Kinana het Maandag opnuut mense gewaarsku om nie vreemde voorwerpe in dié dam op te tel of te hanteer nie.

Volgens die polisie het die damvlak die laaste paar maande gedaal en is dit moontlik die rede vir die onlangse vonds wees.

Samesprekings word ook tans gehou om die dam tydelik te sluit.

Enigeen wat op ’n vreemde voorwerp by die dam afkom, word versoek om die polisie in Uitenhage by 041 996 3434/36/38 te skakel.

Indien die mortiere hanteer word, kan dit moontlik ontplof en noodlottige gevolge hê.

Meer oor:  Uitenhage  |  Oos-Kaap  |  Mortiere  |  Dam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.