Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog 197 polisielede in Wes-Kaap ontplooi
Bheki Cele, minister van polisie, stel Woensdag die nuwe polisiebeamptes in Belhar, Kaapstad, bekend. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Die polisie het weens die toename in geweldsmisdade versterkings na die Wes-Kaap gestuur.

Bheki Cele, minister van polisie, het Woensdag ’n bykomende 197 polisiebeamptes in die provinsie ontplooi. Cele het dit duidelik gestel dat die Wes-Kaap ’n groot bron van kommer is. Van die 30 polisiekantore in die land waar die meeste geslags- en bendegeweld aangemeld word, is tien in die Wes-Kaap, veral in Kaapstad, geleë.

Hy het sy kommer oor die hoë moordsyfer in die provinsie uitgespreek en gesê gedurende die langnaweek is minstens 50 mense vermoor.

Bendegeweld en afpersing kom “hardnekkig” in die provinsie voor, het hy gesê. “Ons moet seker maak dat die mense in vrede in hierdie land kan lewe.”

Die bykomende lede sal in Khayelitsha, Delft, Kraaifontein, Nyanga, Harare en Philippi-Oos ontplooi word.

Intussen het Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sy kommer uitgespreek omdat die jeug in die bendes se kruisvuur beland. Hy het verwys na die drie onlangse voorvalle waarin drie kinders, van wie die jongste net vier jaar oud is, die afgelope twee weke in bendegeteisterde gebiede soos Manenberg en Hanover Park getref is.

Die nuwe polisielede luister na Bheki Cele, minister van polisie, se verwelkoming. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Fritz het gesê dit is onaanvaarbaar dat kinders blootgestel word aan hierdie tipe geweld terwyl hulle net buite hul huise speel.

Hy het gesê die provinsiale regering is ook besig met inisiatiewe om bendegeweld en moorde te bekamp.

Van hierdie inisiatiewe sluit in groter samewerking tussen die polisie en beamptes van die nuwe LEAP (Law Enforcement Advancement Plan), wat deur die Kaapse metroraad en die provinsiale regering verskaf word, en in minstens ses gemeenskappe in die Kaapse Vlakte ontplooi is.

Verder is daar meer geïntegreerde planne om misdaad op kort termyn te pak en op lang termyn te voorkom.

Hy het gesê sedert Oktober verlede jaar is 500 LEAP-beamptes in Delft, Nyanga, Khayelitsha, Philippi, Bishop Lavis en Mitchells Plain ontplooi. Hulle help om die polisie te versterk.

Fritz het gesê later vanjaar sal beamptes hopelik ook in Guguletu en Mfuleni, Harare en Kraaifontein ontplooi word.

Cele het die nuwe polisielede aangemoedig om hard teen die geweldpleging op te tree.

Volgens hom is daar verskillende vlakke van misdaad en geweld in Kaapstad, waarvan dwelms ’n voorbeeld is.

Lede salueer nadat hulle in die Wes-Kaap verwelkom is. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

“Die meeste van die dwelms wat in die land vervaardig word, is vir hierdie stad bestem. In die volgende 72 uur sal ons al ons ‘kliënte’ bymekaarmaak. Almal wat die wet oortree.

“Hierdie week gaan baie intens wees en ek praat nie van ’n #FeesMustFall nie. Die mense wat jong en onskuldige vroue verkrag, wat ander doodskiet, beroof en kaap – daardie mense hoort nie hier nie.

“Hul suurstof moet uitgesuig word. Die Wes-Kaap is nie hierdie week die beste plek vir enige misdadiger om te wees nie. Ons is hier om skoon te maak.”

Nuwe lede van die K9-honde-eenheid is ook ontplooi. Foto: Gallo Images/Brenton Geach
Byna 200 nuwe polisielede luister na Bheki Cele, minister van polisie, se toespraak Woensdag in Belhar. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Polisielede  |  Bheki Cele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.