Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog 2 aangekeer ná moord op veiligheidswag
Polisiebeamptes en die polisiehond Max fynkam die toneel rondom ’n opslaanhuis in KwaDwesi waar ongelisensieerde vuurwapens aangetref is. Nog twee verdagtes wat met die moord op Rodrick Erasmus verbind word, is hier aangekeer. Foto: Verskaf

Op dieselfde dag dat twee mans vir die moord op ’n veiligheidswag van Port Elizabeth in die hof verskyn het, is nog twee verdagtes in verband met die saak aangekeer.

Unathi Adam (33) en Sandile Blaauw (38) het Maandag die eerste keer in die hof verskyn en is van die moord op Rodrick Erasmus (49) op 27 Desember aangekla.

Hulle is Donderdagoggend in onderskeidelik KwaZakhele en KwaDwesi in die stad aangekeer.

Terwyl Adam en Blaauw by die hof in die aanhoudingselle gewag het, het beamptes van die blitspatrollie en honde-eenheid nog twee verdagtes in die saak aangekeer.

Dié twee mans, onderskeidelik 20 en 24 jaar oud, is saam met nog drie mans vir ’n onverwante voorval aangekeer, sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

Rodrick Erasmus. Foto: Facebook

Dit kom nadat die polisie inligting opgevolg het oor ’n opslaanhuis in KwaDwesi waar ongelisensieerde vuurwapens glo gehou is. Beamptes het Maandag omstreeks 08:45 op die huis toegeslaan en vyf mans daarbinne aangetref.

Naidu sê die polisiehond Max het by ’n afskorting in die sitkamer begin blaf en die polisielede het ’n 9 mm-pistool en haelgeweer ontdek wat tussen planke versteek is. ’n Speelgoedvuurwapen is ook in die baadjiesak van een van die mans aangetref.

Die vyf verdagtes is vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en patrone in hegtenis geneem en twee van hulle is as verdagtes by Erasmus se moord betrek. Volgens Naidu sal hulle na verwagting Woensdag vir die moord-en-roof-saak in die hof verskyn.

Erasmus het as ’n veiligheidswag vir Nitrous Security in Port Elizabeth gewerk en is doodgeskiet toe hy twee dae ná Kersfees omstreeks 20:00 op ’n sakerooftog in die Groenbossies-gebied aan die buitewyke van die stad gereageer het. Hy het hom in ’n groep rowers vasgeloop en op hulle geskiet. Die rowers het teruggeskiet en Erasmus noodlottig gewond.

Sy vuurwapen en verskeie goedere in die winkel is gebuit voordat die rowers in een van die klante in die winkel se Nissan-bakkie en hul Ford-motor gevlug het. Die bakkie en motor is later die aand verlate aangetref.

Blaauw en Adam het op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen verskyn.

Landdros Fiona Bosman het gehoor dat Adam ’n vorige veroordeling van huisbraak in 2010 het, asook ’n hangende saak van die besit van dwelms, waarvoor hy op waarskuwing vrygelaat is. Blaauw het ook ’n hangende saak van veediefstal in die Motherwell-gebied teen hom.

Die saak is tot Vrydag vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel. Die staatsaanklaer het aangedui dat die staat borgtog vir die twee mans sal teenstaan.

Meer oor:  Unathi Adam  |  Sandile Blaauw  |  Rodrick Erasmus  |  Veiligheidswag  |  Moord  |  Aangekeer  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.