Die polisie in Kliptown, Johannesburg, soek na nog twee mense wat vermoedelik betrokke was by die moord op twee jong mans in Eldorado Park.
Die mans van onderskeidelik 26 en 27 jaar oud, is Vrydagmiddag dood in ’n kamer in hul huis in East-weg, Eldorado Park, gevind. Hul hande en voete was met draad vasgebind en hulle was in plastiek toegedraai.
Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê twee mans van onderskeidelik 40 en 50 jaar oud is reeds in hegtenis geneem, maar hulle soek na nog twee mense wat glo betrokke was by die moorde.
Volgens Peters is die oorledenes se families ingelig oor hul dood, maar hul identiteit mag nie bekend gemaak word nie. Geen rede is daarvoor verskaf nie.
Peters sê volgens voorlopige ondersoekwerk is die vermoorde mans Donderdag saam met ’n derde persoon gesien. Die vermoede bestaan dat ’n lyk wat Donderdag by die Klipspruit-Wes-begraafplaas gevind is, dié van die derde persoon kan wees. Dié persoon se identiteit is nog nie bekend nie.
Peters sê eers wanneer die identiteit van die derde persoon bekend word, sal die polisie kan bevestig of die twee voorvalle met mekaar verband hou.
Peters vra mense met inligting om die Kliptown-polisie te kontak of die stopmisdaadnommer, 08600 10111, te skakel. Hulle kan ook kontak maak deur die MySAPS-toepassing op ’n selfoon.