Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nóg 2 brigadiers in polisie vas oor wapenlisensies

Speurders wat gewerk het saam met die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear, ’n speurhoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, het Dinsdag nog twee brigadiers van die polisie in Gauteng in hegtenis geneem weens hul beweerde betrokkenheid by die onwettige uitreik van vuurwapenlisensies. 

Bronne sê dié twee is stasiebevelvoerders by twee polisiekantore in Gauteng. 

Hulle sal Woensdag in die landdroshof in Kempton Park verskyn op aanklagte van bedrog, regsverydeling en oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer. 

Anwa Gallie en Nafiz Modack toe hulle op 7 Oktober in die landdroshof in Kempton Park moes verskyn. Foto: Hanti Otto

Dié brigadiers is glo die twee offisiere wat Kinnear in hegtenis wou neem kort voordat hy vermoor is.

Hul inhegtenisneming kom nadat Kinnear en sy span speurders reeds in Mei en Junie vanjaar 21 ander mense, onder wie Nafiz Modack (39), ’n vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld, van sy familielede, vuurwapenhandelaars asook verskeie polisielede van verskillende polisiekantore in Gauteng, in hegtenis geneem het. 

Kinnear is op 18 September vanjaar voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, op die Kaapse Vlakte in ’n sluipmoordaanval doodgeskiet.

Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê daar is nou reeds 28 mense in verband met die ondersoek in hegtenis geneem. 

Van die 28 mense is 17 polisielede. Twee van die polisielede is reeds afgetree. Die 11 ander is private persone. 

Kort nadat Modack in Junie vanjaar in hegtenis geneem is, het Naidoo gesê die ondersoek na dié bedrywighede het reeds in November 2017 begin toe die polisie inligting gekry het oor moontlike bedrog en korrupsie by die aansoeke om vuurwapenlisensies wat tussen Kaapstad en Gauteng plaasvind. 

Die polisie se ondersoek het aan die lig gebring dat lede van die Kaapse onderwêreld, familielede en vriende na bewering hul bevoegdheidsertifikate en vuurwapenlisensies op ’n onwettige wyse bekom het.

Naidoo het toe laat blyk dat die aansoeke onderskeidelik in die polisiekantore in Edenvale, Norwood en Kempton Park gebring is. Nog polisiekantore kan egter betrokke wees.

“Hierdie ondersoeke het oorspronklik begin toe dit duidelik geword het dat ’n paar persone van belang ‘wettige’ vuurwapens besit.

“In die ondersoek is bevind dat onder meer vals woonadresse en/of ander wanvoorstellings op vuurwapenlisensie-aansoeke glo ingevul is.

“Verpligte ondersoeke deur die polisie se toegewysde vuurwapenbeamptes is glo ook nie gedoen nie,” het Naidoo gesê.

Die eerste lasbriewe is in Mei vanjaar uitgereik. 

Modack se vrou, Rehana Ismail, haar tweelingsuster, Roshana Ismail, Faried Cassiem, Abdulaliem Ismail en Natasha Vandalene Manuel is toe in hegtenis geneem.

Volgens inligting is 53 “wettig gelisensieerde wapens” glo in Abdulaliem Ismail se besit gevind.

Van 10 Junie af is brig. Hlamalane Lettie Matshene, lt.kol. Moshato Alfred Moloto, lt.kol. Lawrence Sehati Semono, lt.kol. Nonhlanhla Gladys Skosana, kapt. Khulekani

Samuel Mncube, sers. Koena Welheminah Nkoana, sers. Matseleng Emily Mokwena, oud-kol. Selo Solomon Motau en voormalige konst. MB Chokoe in hegtenis geneem.

Voorts is Abdullah Mehtar en Mahomed Riaz Moosa, albei van Acapulco Sports and Guns in Kempton Park, ook in hegtenis geneem asook Yaseen Modack, wat aansoek gedoen het vir ’n vuurwapenlisensie.

Modack, Anwa Gallie en sers. Lesiba Rodney Masoga is op 17 Junie in hegtenis geneem. Die beweringe teen Modack en Gallie is ook dat hulle op ’n korrupte wyse om lisensies aansoek gedoen het.

Polisielede het Dinsdag bevestig dat die offisiere in hegtenis geneem is. Hulle het daarna alle navrae na Naidoo verwys. 

Modack en Gallie verskyn ook weer Woensdag in die landdroshof in Kempton Park.

Meer oor:  Polisie  |  Charl Kinnear  |  Wes-Kaap  |  Gauteng  |  Vuurwapenlisensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.