Twee paramedici van die Kaapse metro se ambulansdiens het die naweek ’n noue ontkoming gehad toe gewapende rowers in Harare, Khayelitsha, hulle aangeval en beroof het.
Die voorval het Saterdagaand ongeveer 20:00 naby die St. John-kerk gebeur.
Robert Daniels, woordvoerder van die metro se mediese nooddienste, sê ’n strafregtelike saak is by die polisie geopen.
“Die twee paramedici is met vuurwapens gedreig en van hul besittings beroof. Albei is erg getraumatiseer,” sê hy.
Die mans is van onder meer hul selfone, trouringe en beursies beroof.
Daniels het by navraag bevestig dié gebied is tot ’n “rooi sone” vir ambulanse verklaar, wat beteken mediese noodpersoneel moet dit slegs met polisiebegeleiding betree. Daar word ondersoek gedoen na waarom die ambulansdiens nie Saterdagaand begeleiding gehad nie.
Daniels sê die twee mans ontvang traumaberading.