Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Nóg 2 vragmotors brand nadat Cyril aanvalle veroordeel

Kort nadat pres. Cyril Ramaphosa Woensdagoggend in ’n verklaring die aanval op vragmotors sterk veroordeel het, is berigte ontvang van nog twee voertuie wat aan die brand gesteek is.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, het bevestig twee vragmotors is op die N12-hoofweg tussen Etwatwa en Daveyton geteiken.

Die brandweer was nog teen 07:30 op die toneel om die brandende vragmotors te blus.

Hy kon nog nie bevestig of iemand beseer of dood is nie, net dat die vragmotors in ligte laaie is.

Dit volg op meer as 20 aanvalle die afgelope tien dae waarin minstens een van die slagoffers dood is.

Ramaphosa het dié soort dodelike aanvalle skerp veroordeel.

In ’n verklaring wat vroeg Woensdag deur die presidensie uitgereik is, sê Ramaphosa hy is baie bekommerd oor die impak van die geweld op die eienaars en werkers van die vragmotormaatskappye, asook die ekonomiese ontwrigting wat die geweld tot gevolg het terwyl die land op die herbouing van die ekonomie fokus.

“As Suid-Afrikaners kan ons nie hierdie sinnelose en gewelddadige wetteloosheid waarmee dié bedryf geteiken word, bloot aanvaar nie. Ons kan nie die lewensverlies of die vernietiging van eiendom aanvaar nie,” sê Ramaphosa.

Ramaphosa sê hy verwelkom die inhegtenisnames nadat die Gautengse polisie Dinsdagaand drie verdagtes in hegtenis geneem het in verband met die kaping van ’n vragmotor op dieselfde dag aan Gauteng se Wes-Rand.

Volgens Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder, is die verdagtes se voertuig op pad na Johannesburg opgemerk, waarna die polisie die voertuig agternagesit het.

“Die verdagtes het op die polisie geskiet nadat die polisie hulle agternagesit het. Die polisie het teruggeskiet en die voertuig is gestop.”

Makhubele sê die verdagtes se voertuig is deursoek, waarna die polisie op artikels in die motor afgekom het wat glo gedurende die kaping gesteel is.

Die verdagtes (34, 39 en 45) sal binnekort in die hof verskyn.

Die polisie het Maandagaand afgekom op ’n brandende vragmotor naby die N3-hoofweg in Alberton. Die bestuurder, ’n 45-jarige man, het toe reeds aan brand- en skietwonde beswyk.

In Mpumalanga het twee vragmotorbestuurders vroeg Maandagoggend ter nouer nood aan die dood ontkom toe hul vragmotors in Bethal in Mpumalanga met petrolbomme bestook is.

In die Vrystaat is vyf vragmotors Saterdagaand tussen Parys en Sasolburg aan die brand gesteek. Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het gesê die vragmotors moes stop nadat ’n petrolbom na een van hulle geslinger is. Volgens hom is daar na bewering terselfdertyd op ander vragmotors geskiet.

Nege vragmotors is op 19 November by Heidelberg in Gauteng aan die brand gesteek. Volgens kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het ’n wit Toyota Quantum en ’n swart Volkswagen-motor die hoofpaaie Donderdag omstreeks 20:30 voor die aanvalle versper.

Die aanvalle word glo uitgevoer omdat padvervoermaatskappye buitelandse vragmotorbestuurders aanstel.

Die organisasie Road Freight Association (RFA), wat die padvragmaatskappye verteenwoordig, het Dinsdag in ’n sterk bewoorde brief aan Ramaphosa gewaarsku die aanvalle op vragmotors landwyd is niks anders as ’n oorlog op die Suid-Afrikaanse ekonomie nie. Hulle meen ook die aanvalle kan die land destabiliseer.

Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die RFA, sê in die brief die aanvalle verwoes nie net menselewens nie, maar ook maatskappye, die skep van werkgeleenthede, ekonomiese aktiwiteit, goedere, vragmotors en vervoergeriewe.

Dit skrik ook beleggers af om te belê in die verspreiding van goedere deur Suid-Afrika na die res van Afrika.

Meer oor:  Vandalisme  |  Moord  |  Poging Tot Moord  |  Aanvalle Op Vragmotors  |  Misdaad  |  Brandstigting  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.