Nog drie mense is in hegtenis geneem ná die grumoord op ’n bejaarde Oos-Kaapse vrou wat van heksery verdink is.
Die twee mans en ’n vrou (almal 38) is deel van ’n groep van nege verdagtes wat tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Hulle is Dinsdag in onderskeidelik Worcester en Kaapstad aangekeer.
Dit kom nadat Nosayinethi Manundu (83) op 15 Maart in die Majuba-nedersetting in Sterkspruit aangeval is. Sy is glo daarvan beskuldig dat sy deur toordery vir die dood van ’n jong man, wat die vorige dag begrawe is, verantwoordelik was.
Die groep het haar rondawel na bewering ingestorm, haar aangerand en haar verdrink deur haar kop in ’n drom water te druk. Haar rondawel is daarna aan die brand gesteek.

Nosayinethi Manundu (83) se rondawel is heeltemal in puin gelê. Foto: Verskaf
Volgens die polisie het die aanvallers ook paraffien oor Manundu se 23-jarige kleindogter, wat by haar gewoon het, gegooi en probeer om haar aan die brand te steek.
Sy kon egter ontsnap en is nou uit vrees vir verdere aanvalle in ’n plek van veiligheid.
Die polisie het vroeër vyf verdagtes oor die Oos-Kaap heen in verband met die voorval aangekeer, terwyl ’n sesde verdagte verlede week in Mpumalanga vasgetrek is.
Die drie mense wat vandeesweek aangekeer is, sal binnekort in die hof op aanklagte van moord, poging tot moord, brandstigting, aanranding en opsetlike saakbeskadiging verskyn.
Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan vir sy werk geloof en benadruk dat hy met sy werk sal voortgaan.
“Georganiseerde misdaad en vigilante-optrede het geen plek in ’n beskaafde land soos ons s’n nie,” het Ntshinga gesê.