Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog 4 vas ná plaasmoord in Vrystaat

Nog drie mans en ’n jong vrou is Maandag in die woonbuurt Kanana in Wepener aangekeer ná die moord verlede week op Marian Bruwer (68) en haar man, Choppie (78), op hul plaas buite Vanstadensrus.

Hulle het twee vuurwapens, ammunisie, selfone, juwele, ’n skootrekenaar en ander besittings van die vermoorde egpaar by hulle gehad.

Gabriel (Choppie) (78) en Marian Bruwer (67). Hulle is verlede week in hul huis in Vanstadensrus vermoor.Foto: Ds. Frans Gottschalk

Dit bring dit getal mense wat in verband met dié moord in hegtenis geneem is nou op vyf te staan nadat twee ander mans Saterdag reeds in Kanana en in Vanstadensrus se Gaba Square in hegtenis geneem is.

Intussen het Marleen Grobbelaar, Marian se skoonsuster, vertel dat dié vrou se oupa en ouma ook jare gelede op ’n plaas in die Cradock-distrik aangeval is.

Die oupa, FC Grobbelaar, is in die vroeë 1960’s op die plaas Rietfontein vermoor en die ouma, Ella, is vir dood agtergelaat, maar het oorleef.

Marian het tot twee jaar gelede nog op Cradock gewoon, waar sy vir Choppie Bruwer ontmoet het.

Grobbelaar sê Marian se ouma was ná die aanval blind nadat haar oë uitgesteek is. Sy is intussen ook dood.

Jasper Coetzee, Marian se jongste seun, het Dinsdag gesê hy is besig om sy ouers se besittings op te pak in hul plaashuis, sowat 3 km buite die dorp.

Van die geroofde items van die Bruwer-egpaar van Vanstadensrus wat teruggekry is toe die polisie Dinsdag nog vier verdagtes in verband met hul moorde verlede week aangekeer het.Foto: Verskaf

Sers. Mosili Ntsika, polisiewoordvoerder, sê drie mans van tussen 26 en 31 jaar oud en ’n 21-jarige vrou is Maandag in Kanana by Wepener aangekeer met eiendom van die vermoorde mense in hul besit. Dit nadat twee mans van onderskeidelik 20 en 26 jaar oud Saterdag laat in Kanana en in Gaba Square by Vanstadensrus in hegtenis geneem is.

Polisielede het Saterdag die egpaar se ses gesteelde vuurwapens en ander gesteelde goed in ’n huis in Wepener gekry.

Die Bruwers is verlede Maandag op hul plaas sowat 3 km buite Van Stadensrus in die kop geskiet. Hul lyke is ’n dag later gevind.

Die egpaar se gesteelde Chevrolet Spark is verlede Dinsdag omstreeks 20:00 verlate naby ’n sportterrein op Wepener gevind.

Meer oor:  Vrystaat  |  Plaasmoord  |  Aangekeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.