Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog 6 ontsnap in Limpopo

Skaars twee weke nadat vier vermeende misdadigers uit die polisieselle in Hoedspruit, Limpopo, ontsnap het, het nog ses verhoorafwagtende mans Saterdag uit die polisieselle buite Mokopane ontsnap.

Victor Dube (31), ’n onwettige immigrant van Zimbabwe, het uit die polisieselle in Tinmyne, Limpopo, ontsnap. Foto: SAPD
Tshurai Fabiano (22) Foto: SAPD
Tawanda Goandepi (21) word deur die polisie in Limpopo gesoek nadat hy uit die Tinmyne-polisieselle ontsnap het.Foto: SAPD
Simbarashe Ngwenzi (27) Foto: SAPD
Christopher Langa (22)Foto: SAPD

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê ’n taakspan is in opdrag van lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, saamgestel om die ontsnappings te ondersoek.

Genl.maj. Samuel Manala, provinsiale adjunk-kommissaris, sal die ondersoek na die vlaag ontsnappings lei.

Die vier mans wat op 3 November uit die polisieselle in Hoedspruit ontsnap het, is steeds op vrye voet. Hulle het deur die dak van die polisiekantoor ontsnap. Van dié ontsnaptes was in hegtenis weens moord, verkragting en gewapende rooftogte.

’n Week voor die ontsnapping in Hoedspruit het vier verhoorafwagtendes uit die Witpoort-polisiekantoor buite Lephalale (Ellisras) ontsnap. Drie van die vier is danksy wenke van die publiek weer in hegtenis geneem. Daar word steeds na Bongani Sibanda (31), wat weens sakerooftogte in aanhouding was, gesoek.

In die mees onlangse ontsnapping het ses mans Saterdag kort ná 12:00 uit die selle by die Tinmyne-polisiekantoor buite Mokopane ontsnap.

Hulle is almal tussen 21 en 27 jaar oud.

Mojapelo kan nie sê hoe die mans ontsnap het nie. “Die taakspan sal kyk of die nodige interne veiligheidsmaatreëls gevolg is. Indien dit blyk dat ’n polisielid moontlik betrokke was en die mans gehelp het om te ontsnap sal daar onmiddellik stappe gedoen word.”

Christopher Langa (22) was in hegtenis omdat hy glo by huise in die Tinmyne-gebied ingebreek het.

Tshurai Fabiano (22) was in aanhouding weens diefstal wat hy glo in die Mookgophong- (Naboomspruit) gebied gepleeg het.

Mahlatsi Lucky Setumula (21) is weens twee klagte van verkragting in die Tinmyne-gebied in hegtenis geneem en Tawanda Goandepi (21) staan tereg op een klag van verkragting in dieselfde gebied.

Nog een van die ontsnaptes is Victor Dube (31), ’n onwettige immigrant van Zimbabwe, wat in hegtenis geneem is weens die rig van ’n vuurwapen en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Simbarashe Ngwenzi (27) is aangekeer omdat hy onwettig in die land is.

Enigiemand met inligting oor die ontsnapping by die Tinmyne-polisiekantoor kan ao. Rasimati Ngobeni by 063 103 3301 bel of die polisie se noodnommer, 10111, skakel.

Meer oor:  Mokopane  |  Limpopo  |  Ontsnap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.