Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog 7 vas vir geweld in Phalaborwa

’n Weermaglid is een van die sewe mense wat ook nou agter tralies is weens die betogings en openbare geweld wat Phalaborwa in Limpopo sedert verlede week verlam het.

Die 53-jarige man sal eersdaags saam met die res van die verdagtes in die landdroshof in Namakgale buite Phalaborwa verskyn, sê brig. Motlafela Mojapelo, die provinsiale polisiewoordvoerder.

Phalaborwa is bykans heeltemal van die res van die provinsie afgesny toe woedende gemeenskapslede die R71- en R40-pad van Vrydag af met brandende bande en klippe afgesper het, sê Mojapelo.

Ontstoke inwoners van Phalaborwa drom buite die dorp saam. Foto: SAPD

Die pad na die Krugerwildtuin se Phalaborwahek was ook verlede Vrydag gesluit en motoriste is met klippe bestook.

Die betogers is ontevrede weens onder meer ’n tekort aan werkgeleenthede.

Skole en winkels in Phalaborwa, sowel as in Namakgale en Lulekani buite die dorp, was gesluit.

Mense wat medisyne of mediese hulp by klinieke en die Maphutha Malatji-hospitaal wou kry, is ook verhoed om daar uit te kom.

Inwoners en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum moes bontstaan om saam met die polisie versperrings op die paaie te verwyder.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, het Maandag bykomende polisielede na Phalaborwa ontplooi.

Volgens Mojapelo is die sewe verdagtes tussen 23 en 53 jaar oud. Hulle is tydens polisieklopjagte in hegtenis geneem.

Buiten dié sewe is Peter Malatji (50) en Mavis Malatji (35) Maandag in hegtenis geneem. Hulle het Woensdag op aanklagte van openbare geweld in die landdroshof in Namakgale verskyn.

Mojapelo sê Mavis het in die hof flou geword en is na ’n hospitaal geneem waar sy onder polisiebewaking is.

Hulle sal Dinsdag weer in die hof verskyn.

Ledwaba sê openbare geweld en wetteloosheid sal nie geduld word nie.

Meer oor:  Namakgale  |  Phalaborwa  |  Krugerwildtuin  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.