Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog 9 vas ná diefstal van R53 m. uit metro-bankrekening

Die Valke het Donderdag nog nege mense vasgetrek wat na bewering betrokke was by die diefstal van R53 miljoen uit ’n bankrekening van die Tshwane-metroraad.

Die National Clean Audit Task Team, die Valke se span wat bedrog en korrupsie in die land se munisipaliteite ondersoek, het op verskeie plekke in Gauteng toegeslaan.

Merriam Mogoera (60), Clement Makhanya (45), Mzamo Gumede (23), Martin Nhlapo (49), Christiaan Mnqayi (51), Wandile Malinga (38), Castano Manuel (48), Glen Spambo (39) en Cheryl Nel (59) het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Alexandra, Johannesburg, verskyn.

Die R53 miljoen is op 30 Augustus 2019 uit die stadsraad se rekening gesteel nadat die munisipaliteit se stelsels binnegedring is, sê die Valke. Die geld was glo bedoel vir die nasionale fonds vir munisipale werkers in die metroraad.

Kontant is na verskillende bankrekeninge oorgeplaas, insluitend dié van die maatskappy Ayakhula Trading.

Nkosinathi Sithole (44) en Ivo Gunter Wegrostek (63), wat luidens die verklaring direkteure van die maatskappy was, is onderskeidelik in Desember 2019 en Mei 2020 in hegtenis geneem.

Hulle sal nou saam met hul nege medebeskuldigdes teregstaan op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery.

Bykomende klagte staar Sithole en Wegrostek ook in die gesig nadat hulle na bewering ’n sindikaat op die been gebring het met die doel om ’n R1 miljard-JSE Trustee-rekening te plunder.

In dié geval het Absa snuf in die neus gekry en die nasionale taakspan op die spoor gesit van mense wat glo betrokke was by die diefstal uit die Tshwane-metro se rekening. Die nege mense is daarop in hegtenis geneem.

Vrydag is Nel en Spambo vrygelaat nadat borgtog van R10 000 vir elkeen vasgestel is. Die ander beskuldigdes sal in aanhouding bly totdat hulle weer op 12 Maart in die hof moet verskyn.

Sithole en Wegrostek is reeds vroeër vrygelaat op borgtog van R100 000 elk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.