Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nóg een aangekeer ná Reich-moord

’n Derde verdagte in die moord op die bejaarde Karl Reich van Welkom in die Vrystaat is Donderdagoggend aangekeer nadat hy glo ’n taxibestuurder probeer kaap en byna in die kop geskiet het.

Die 35-jarige man, wat deur die Valke gesoek is ná die moord verlede jaar op Reich, het glo tussen 05:00 en 06:00 ’n taxibestuurder in Volksweg probeer kaap. Dit is dieselfde straat waarin Reich (82) destyds aangeval is.

Ao. Lynda Steyn, Valke-woordvoerder, sê die taxibestuurder het uitgeklim om die hek toe te maak toe die man in die voertuig klim. Toe die taxibestuurder terugklim om te ry, het hy glo op die bestuurder geskiet, maar sy kop rakelings gemis.

Die bestuurder het kopgehou en in ’n boom vasgejaag en die ander man is in die ongeluk beseer.

Karl Reich (82)Foto: Facebook

Volgens Steyn het hy frakture aan sy ribbes en inwendige beserings opgedoen.

Die taxibestuurder is net rakelings getref.

“Die man is in hegtenis geneem en speurders van Welkom het besef dit is die man wat ons soek in verband met die Reich-moord.

“Ons hoop hy sal herstel sodat hy verhoor kan word,” sê Steyn.

Die man, wat onder polisiebewaking in ’n hospitaal is, is in 2016 op parool vrygelaat nadat hy in Desember 2010 in die Kaap tronk toe gestuur is vir onder meer poging tot roof met verswarende omstandighede, omdat hy op ’n polisiebeampte geskiet het, aanranding met die doel om ernstig te beseer, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die besit van gesteelde eiendom.

Hy het Reich glo op 24 September 2018 saam met twee ander mans in sy huis oorval en vermoor.

Reich is by sy huis verwurg en televisiestelle en kruideniersware is in sy twee voertuie gelaai. Reich se lyk is in die kattebak van een van die voertuie gelaai.

Daarna is die lyk glo langs die pad buite Pretoria gegooi en iemand het met Reich se kredietkaart probeer geld onttrek.

Iemand het die volgende dag, op 25 September, op Reich se lyk afgekom en dit by die polisie aangemeld. Die polisie kon geen naasbestaandes opspoor nie en Reich is as ’n armlastige begrawe.

’n Man wat in Maart vanjaar in verband met Reich se moord aangekla is, Mojalefa Tseki (34), en nog ’n man, Thanki Motseki (27), het Donderdag op aanklagte van roof en moord in die hof verskyn.

Hul verhoor is tot 12 September uitgestel en hulle bly in aanhouding. Die ondersoek na Tseki is in Mei laat vaar, maar hy word nou weer aangekla.

Die mans is in hegtenis geneem drie weke nadat die Valke die dossier by Welkom se speurtak oorgeneem het. Een van hulle het aan die Valke gewys waar Reich se lyk langs die pad weggegooi is.

Die Valke soek nog na die man(s) wat Reich se twee motors het.

Meer oor:  Karl Reich  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.