Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nóg een vas weens aanval waar Yorkie geskiet word
Pieter Pieterse Foto: Verskaf

Nóg een verdagte, ’n vrou, is Donderdagaand vasgetrek weens die plaasaanval vroeër die dag in Noordwes waartydens die rowers ’n Yorkie doodgeskiet het.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in die provinsie, het Vrydagoggend gesê drie mense is nou in hegtenis geneem weens die aanval op Pieter Pieterse (78) se plaas Koedoesdraai, sowat 40 km buite Leeudoringstad.

Die eerste twee ander verdagtes is enkele ure ná die aanval in Klerksdorp vasgetrek. Hulle en nog twee verdagtes is betrap in ’n Toyota Yaris. Die Yaris behoort aan Pieterse se dogter, Erna Pieterse, wat ook gedurende die aanval op die plaas was.

Volgens Tselanyane het die ander twee insittendes in die Yaris gevlug en hulle is steeds soek. Die vrou wat later, ook in Klerksdorp, in hegtenis geneem is, het vermoedelik met die aanvallers se wegkommotor gery.

Vyf aanvallers was vermoedelik betrokke. Tselanyane sê selfone, kontant en twee vuurwapens is gesteel.

Dis die tweede keer in minder as twee maande dat Pieterse aangeval word. Gedurende die aanval Donderdag is hy vermoedelik weer met ’n panga teen die kop gekap, soos die aanvallers ook met die eerste aanval op 12 Junie gedoen het. Hulle het toe ook onder meer vuurwapens gesteel.

Japie Venter, veiligheidshoof van die Leeudoringstad-boerevereniging, het Vrydagoggend gesê Pieterse is erg getraumatiseer, maar die beserings is vleiswonde wat met steke geheg kon word. “Skanderings het nie ander ernstige beserings getoon nie.”

Erna Pieterse se Toyota Yaris waarmee die rowers Donderdag gevlug het. Dis later weer gevind. Foto: Verskaf

Intussen is Erna ook erg getraumatiseer nadat die rowers haar geliefde Yorkie doodgeskiet het. Hulle het volgens Venter ook gedreig om haar te verkrag, maar dit nie gedoen nie. Sy is nie andersins beseer nie.

Erna het juis ná die eerste aanval op 12 Junie by haar pa op die plaas gaan woon om hom by te staan. Pieterse woon alleen op die plaas. Sy vrou, Chrissie, is jare gelede al dood.

• Joseph Bernard Kulelaphi (50) is enkele dae ná die eerste aanval in Junie vasgetrek en het reeds in die hof verskyn. Hy was een van vermoedelik vier rowers wat by Pieterse se huis ingebreek het terwyl hy vroegaand televisie gekyk het. Hulle het hom met ’n panga gekap en sy hande en voete met nylontou vasgebind, het Erna kort ná die aanval vertel.

Pieterse het vir hulle die kluis se sleutels gegee, waaruit hulle wapens gevat het. Hulle het ook twee selfone en Pieterse se beursie met kontant gesteel voordat hulle met sy Mercedes-Benz gevlug het. Die voertuig is later verlate naby Leeudoringstad gevind.

Venter sê hulle vermoed die rowers wat Donderdag toegeslaan het, is moontlik deel van dieselfde groep as die eerste aanvallers. Erna het vroeër gesê haar pa beplan reeds lankal om in September af te tree en dan by sy kinders in Pretoria te gaan woon.

Meer oor:  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.