Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog g’n klag ná Xander se pa glo mense in hof aanrand

Nog geen klagte van aanranding is teen Xander Bylsma se pa aanhangig gemaak nadat hy glo onder andere die ondersoekbeampte aangerand het nadat sy seun aan moord skuldig bevind is nie.

Monté Bylsma
Monté Bylsma, Xander se pa, met een van sy seun se verskynings op aanklagte van moord in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Foto: Simon Sonnekus

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het Dinsdag gesê geen klagte is nog teen Monté Bylsma in die polisiekantore in onderskeidelik Mmabatho of Mahikeng ingedien nie.

Bylsma het kapt. Markus Ferreira, die ondersoekbeampte in sy seun se dubbele moordsaak, op Maandag 17 Februarie glo ten aanskoue van ooggetuies in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, aangerand.

Dit het glo gebeur net nadat regter Ronald Hendricks Xander (20) aan moord met voorbedagte rade op sy voormalige meisie, Sharnelle Hough (17), en die moord op die ingewing van die oomblik op Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie, skuldig bevind het.

Die boesemvriendinne se lyke is op die oggend van Saterdag 26 Mei 2018 in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes gevind nadat albei ure tevore verwurg is.

Ferreira sê toe hy net ná die uitspraak verlede week uit die hofsaal stap, het Bylsma na hom gestap en hom so hard met die plathand in die gesig geslaan dat hy met sy agterwêreld op ’n stoel geval het.

Kol. Corrie Coghlan, wat Xander se bekentenis kort ná die moorde afgeneem het, beweer dat Bylsma hom daarna aan die arm gegryp en gedreig het dat hy vir hom “sal kom”. Bylsma het Chris Saunders glo ook hard met sy vingers teen die bors gedruk en gedreig dat hy ook vir hóm “sal kom”.

Xander Bylsma
Xander Bylsma verlede week in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, waar hy aan twee aanklagte van moord skuldig bevind is. Foto: Felix Dlangamandla

Saunders, teenoor wie Xander eerste oor die moorde gebieg het, het egter gesê hy gaan nie klagte teen Bylsma indien nie omdat hy ná sy seun se skuldigbevinding ooglopend ontsteld was.

Ferreira, Coghlan en Bylsma kon nie Dinsdag vir kommentaar bereik word nie. Ferreira en Coghlan het vroeër gesê hulle gaan verklarings aflê en klagte teen Bylsma indien.

Bylsma en Xander se ma, Mercia, glo steeds in sy onskuld al het Hendricks in sy uitspraak bevind dat hy leuenagtig en ’n onbetroubare getuie was. Hendricks het ook Xander se weergawe dat Saunders hom gedreig en afgepers het om skuld te beken verwerp. Hendricks het gesê ander getuienis – soos die lykskouings op die meisies – het die inhoud van die bekentenis bevestig.

Hendricks het bevind die motief vir die moorde was duidelik uit gesprekke wat Xander kort vóór die moorde gehad het, asook dreigemente wat hy gemaak het: Dat hy dit nie kon verwerk dat Sharnelle “aanbeweeg het” nadat hulle uitgemaak het nie; dat hy haar “lewe hel sal maak en haar tot selfdood sal dryf”; én dat Marna gekant was teen ’n versoening tussen Xander en Sharnelle.

Sy vonnisverrigtinge sal van 18 tot 20 Mei in die hooggeregshof in Mmabatho plaasvind.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Monté Bylsma  |  Stella-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.