Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nóg iemand was betrokke by moord op Liam Nortjé (2)

’n Medepligtige in die raaiselagtige moord op die blondekopseuntjie van Harrismith Liam Nortjé (2) kan meer lig werp op hoe sy oorskot in Desember 2019 toegedraai in ’n duvet en plastiek langs ’n treinspoor by die dorp gevind is.

Omdat ’n verslag van DNS-toetse op die oorskot vandeesweek bo alle twyfel bevestig het dat dit Liam se oorskot is, sal die polisie nou na ’n medepligtige in die moord moet soek.

Omdat die oorskot erg ontbind was, kan daaruit waarskynlik nooit bepaal word hoe die seuntjie doodgemaak is nie.

Liam Nortjé

Die oorskot is op dieselfde dag gevind as wat Liam se pa, Nantes Nortjé, in die hooggeregshof in Bloemfontein tot lewenslange tronkstraf vir die moord op sy seuntjie gevonnis is.

Dit was duidelik dat die oorskot nog nie lank op daardie plek in ’n holte in die grond langs die treinspoor was nie. Nantes was in aanhouding en iemand anders moes dit dus êrens gaan haal en daar geplaas het, is aan Netwerk24 gesê.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n verklaring van ’n familielid moet nog vir die ondersoekdossier verkry word.

Skaars sewe maande nadat Nantes gevonnis is, is hy dood nadat hy vermoedelik in die Mangaung-tronk ’n onbekende mengsel gedrink het. Tot sy dood het hy geswyg oor wat van Liam geword het en ontken dat hy hom vermoor het.

Corné Marais, ’n prokureur op Harrismith wat Liam se ma, Cheinelle Brooks, bystaan, het namens die familie Vrydag gesê reëlings word nou getref om Liam se oorskot van die forensiese laboratorium in Pretoria terug te kry.

Liam Nortjé

Hy sal veras word en ’n roudiens sal vir hom gehou word, waarop die familie finaal sal afskeid neem.

Hy sê Cheinelle is baie hartseer, maar het steeds hoop gehad. Noudat die DNS-verslag uitgekom het, is daar finaliteit.

Sy kan steeds nie glo dat die man met wie sy getroud was, tot só iets in staat sou wees nie.

Cheinelle het Donderdag in ’n boodskap op sosiale media geskryf: “Rus in vrede, klein Liampie. Jy is nou veilig tuis. Mag pappa Jesus sy hande om jou vou. Ons sal altyd lief bly vir jou.”

Sy het ook ’n foto waar hulle kleurvolle ballonne in Maart op Liam se sesde verjaardag vrygelaat het, by die inskrywing geplaas.

Cheinelle Brooks se boodskap Donderdag op sosiale media.

Wynette Nortjé, Liam se suster, het in ’n Facebook-inskrywing gesê ná vier jaar se wonder en soeke na antwoorde oor hul “engelkind”, het hulle uiteindelik ’n antwoord gekry.

“Ek kan nou met vrede in my hart aanvaar dat jy veilig in Liewe Jesus se arms is. Mag jy elke dag sing en dans saam met die engele daar bo. Ons verlang nog elke dag na jou. Tot ons jou weer sien, liefste Liam.”

• Cheinelle het op 19 Desember 2019, toe Liam se oorskot gevind is, aan Netwerk24 gesê sy het haar blondekopseuntjie aan sy skoentjies herken op ’n foto wat vir haar gestuur is.

“Dit is die Spider-Man-sandaaltjies wat ek nog vir hom gekoop het.

“Ek het dit dadelik herken. Dit is ongetwyfeld hy daai. Dis sy skoentjies wat ek aan die polisie beskryf het.”

Meer oor:  Liam Nortjé  |  Harrismith  |  Moord  |  Oorskot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.