Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog klagte kom dalk teen makelaar van Oudtshoorn

Nog aanklagte kan teen ’n makelaar van Oudtshoorn ingestel word indien die staat slaag met vertoë wat hy aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) gerig het.

Die verhoor van Barend Petrus (Bennie) de Wet wat onlangs in die streekhof op Oudtshoorn sou begin, is op versoek van die staat uitgestel nadat nuwe inligting glo bekom is.

De Wet word daarvan aangekla dat hy derduisende rande van ’n familietrust gesteel het. Hy het na bewering by sewe geleenthede in 2007 en 2008 altesame R863 000 van die JJ Swart Testamentêre Trust gesteel.

Luidens die klagstaat het die beweerde diefstal op 20 Julie 2007 (R300 000), 30 Januarie 2008 (R40 000), 6 Februarie 2008 (R23 000), 6 Maart 2008 (R100 000), 2 Julie 2008 (R150 000) en 7 November 2008 (R50 000 en R200 000) plaasgevind.

Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof meegedeel dat nuwe inligting tydens konsultasie met die klaer na vore gekom het en sy wil die DOV versoek om verdere aanklagte op die klagstaat by te voeg.

De Wet se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het beswaar teen die uitstel gemaak omdat die saak volgens hom reeds geruime tyd sloer en die staat genoeg tyd gehad het om vir die verhoor voor te berei.

Volgens Shone is sy kliënt geregtig op ’n spoedige verhoor. Hy is in ’n moeilike situasie as makelaar wat nou geen inkomste het nie

“Die staat het sedert Junie – toe verhoordatums vir 15 en 16 September vasgestel is – drie maande gehad om te konsulteer,” het Shone gesê.

Shone het die hof gevra vir die spoedige afhandeling van die saak. “Daar moet nou gewag word vir die DOV se beslissing en eers dan kan ’n nuwe verhoordatum gereël word.”

Streeklanddros Daniel Boks het met Shone saamgestem dat die staat genoeg tyd gehad het en gesê dit is kommerwekkend. “Dit is egter moeilik wanneer een staatsaanklaer by ’n ander oorneem, soos in dié geval,” het Boks bygevoeg.

Die saak is vir ’n beslissing van die DOV tot 31 Oktober uitgestel, wanneer ’n verhoordatum gereël kan word.

De Wet is vroeër op waarskuwing vrygelaat.

Meer oor:  Trust  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.