Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nóg minderjariges raakgeskiet in bendekruisvuur
Lede van die weermag verlede Sondag in Kraaifontein besig met ’n misdaadvoorkomingsoperasie. Foto: Jaco Marais

Twee kinders – die een 6 en die ander 16 – is die naweek in kruisvuur tussen bendes op die Kaapse Vlakte gewond.

In die eerste voorval is ’n sesjarige seuntjie Saterdag om 09:30 in Beacon Valley in Lagondastraat, Mitchells Plain, geskiet. Hy is in die kruisvuur tussen twee bendes gewond.

’n 16-jarige meisie is later die dag in haar been geskiet toe sy in ’n winkel in Jordanstraat in Manenberg gestaan het.

’n Woordvoerder van die gemeenskapspolisiëringsforum in Mitchells Plain, Abie Isaacs, het die geweld ten sterkste veroordeel.

Volgens Isaacs is ’n man dood toe hy twee strate van waar die seuntjie gewond is, geskiet is. Hy het aan sy wonde beswyk.

Isaacs het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met inligting oor die skietvoorvalle. “Dit het helder oordag gebeur. Iemand moes dit gesien het – iemand moet iets weet.”

Lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê die omstandighede rondom die voorvalle word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

“Die polisie versoek die publiek om inligting deur te gee deur Crime Stop by 08600 10111 te bel.”

Inwoners en leerlinge van Belhar het ’n memorandum aan die polisie oorhandig om te vra vir beter polisiëring.

* Inwoners en leerlinge van Belhar het Vrydag op die Kaapse Vlakte ’n memorandum aan die polisie oorhandig om te vra vir beter polisiëring.

Kalib Missoe was een van die organiseerders van die optog waaraan sowat honderd mense Vrydagoggend deelgeneem het.

“Ons wil hê die polisie moet meer sigbaar wees in ons gemeenskappe, hulle moet metaalverklikkers by skole installeer en toetse op leerlinge doen vir dwelmgebruik,”

sê hy.

“Hier moet ’n groot polisiekantoor gebou word en meer polisiebeamptes moet ontplooi word,” sê Missoe. “Die korrupte amptenare moet verwyder word.”

Leerlinge van die Excelsior en Symphony Secondary School en die Hoërskool Belhar het aan dié optog deelgeneem nadat minstens vier skoolgaande kinders die afgelope paar maande in die kruisvuur van bendes beland en doodgeskiet is.

* ’n Vergadering oor hoe gemeenskappe in die Wes-Kaap verder beveilig kan word, sal binnekort gehou word, het Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, in ’n verklaring gesê.

Fritz sê hy is veral bekommerd oor die risiko dat bendelede en misdadigers van die een gebied na die ander sal verskuif om kriminele bedrywighede voort te sit en wetstoepassers te ontduik.

Fritz vra vir ’n groter integrasie tussen die polisie, wetstoepassingsbeamptes, Sanparke en die weermag om die verplasing van misdaad te voorkom.

Die weermag is ’n paar weke gelede in die Kaapse Vlakte ontplooi in gebiede waar misdaad hoogty vier.

Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Bendegeweld  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.