Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog ’n boer wreed in Vrystaat vermoor

Slegs ’n week nadat ’n egpaar van Boshof op hul plaas deur ses mans aangeval en vermoor is, is ’n opkomende boer in die Vrystaat wreed om die lewe gebring.

Johannes Mazibuko (71) is Donderdag vroegoggend op die plaas Waterpark in die Frankfort-distrik vermoor.

Lt.genl. Moeketsi Sempe, Vrystaatse polisiehoof. Foto: André Damons

Konst. Josephine Radi, polisiewoordvoerder, sê die aanvaller is tussen 06:00 en 14:00 deur veewagters op ’n ander plaas aangekeer toe hy met die vermoorde boer se beeste betrap is.

Die veewagters het die polisie gekontak, waarna die beamptes die man aangekeer en Mazibuko probeer bel het. Toe hulle hom nie in die hande kon kry nie, het die beamptes familielede gebel.

Volgens Radi het Mazibuko se kinders gesê hy is vroegoggend by die huis weg om na sy beeste te gaan kyk.

Die polisie en ander veewagters het na hom begin soek en in ’n ou huis naby die krale op sy lyk afgekom. Sy keel was oopgesny.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Lt.genl. Moeketsi Sempe, polisiehoof in die Vrystaat, het dié moord, sowel as dié van Sakkie (67) en Ina van der Berg (62) van die plaas Bloubos buite Boshof, veroordeel.

Sempe het Vrydag op ’n geleentheid gepraat waar hy en Sam Mashinini, LUR vir polisie, paaie en vervoer in die Vrystaat, nuwe bakkies vir landelike veiligheid aan polisiebeamptes oorhandig het.

“Ek moet aandui dat ons bekommerd is oor die misdaad wat in landelike gebiede plaasvind. In die laaste twee weke het ons ook huisrooftogte gehad wat daartoe gelei het dat drie mense vermoor is,” het hy gesê.

Ons innige meegevoel aan die families van die slagoffers van die barbaarse voorvalle op plase en dorpe in die provinsie.
Lt.genl. Moeketsi Sempe, polisiehoof in die Vrystaat

Hy het verwys na die moord op die Van der Bergs, sowel as dié van Anna Herbst (66), Bloemfontein se “pannekoek-tannie”. Herbst is vroeër vandeesmaand in haar huis in Martindale buite Bloemfontein vermoor en die huis is aan die brand gesteek.

“Ons innige meegevoel aan die families van die slagoffers van die barbaarse voorvalle op plase en dorpe in die provinsie,” het Sempe gesê.

Hy het gesê landelike veiligheid is een van die polisie in die Vrystaatse se hoofvoorkeure en dat die voertuie dienslewering en ’n geïntegreerde benadering verbeter, beamptes die geleentheid gee om veiligheidsbewustheid te verskerp en help met die skep van ’n omgewing wat bevorderlik is vir landelike ontwikkeling.

Die Van der Berg-egpaar is verlede Vrydagaand aangeval en vermoor nadat die aanvallers Sakkie by die geslote hek ingewag en oorval het.

Hy is vermoedelik na die huis gedwing waar hy en sy vrou met ’n stomp voorwerp aangerand en vermoor is.

Johannes Sekgoro, Lecpile Daniël Sidas, Daniël Tsekiso Seloane en Thami Terrence Kat het Donderdagoggend op aanklag van moord in die landdroshof op Boshof verskyn.

’n Vyfde verdagte wat vroeër saam met die mans aangekeer is, is weens onvoldoende getuienis vrygelaat.

Hul verhoor is tot 25 Julie vir ’n borgtogaansoek uitgestel.

Meer oor:  Boshof  |  Frankfort  |  Vrystaat  |  Boere  |  Moord  |  Landbou  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.