Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog ’n huisroof ná honde rowers op Glentana verjaag

Skaars 48 uur nadat vyf honde in die nagtelike ure inbrekers in ’n strandhuis op Glentana verwilder het, is ’n egpaar van dié stranddorp in die Suid-Kaap oorval en beroof.

Dit kom nadat die dorp reeds vroeër vanjaar onder ’n vlaag van inbrake deurgeloop het.

In die jongste voorval het vier rowers Maandag omstreeks 00:30 ’n egpaar in hul huis in Mosselstraat vasgebind en beroof. Die vrou wat glo een van die mans deur ’n badkamervenster op die grondvloer gesien het, het vir haar man geskree.

Hy het die trappe afgehardloop en drie mans met klapmusse by die voordeur gesien. Een het ’n venster langs die voordeur gebreek en hulle het toegang tot die huis verkry.

Die egpaar se hande en voete is vasgebind, waarna die rowers onder meer skootrekenaars en selfone gesteel het. Die egpaar kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Volgens haar het die rowers ’n venster op die grondvloer oopgedwing en daarna ’n skuifdeur oopgemaak.

Volgens die polisie word die saak nog ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

In die voorval Saterdagnag wat hierdie rooftog voorafgegaan het, het vermoedelik drie inbrekers ’n televisiestel uit ’n strandhuis in Gleniqua-rylaan gesteel. Die huis behoort al sowat 26 jaar aan Katinka Morrison van Piketberg en haar gesin.

Volgens haar was sy ten tyde van die voorval alleen in die huis. Haar vyf honde het by haar in ’n kamer op boonste verdieping geslaap.

Die honde het omstreeks 03:30 verwoed begin blaf, maar sy was te bang om ondertoe te gaan om te gaan kyk. Die rowers was vermoedelik besig om die trappe op te kom toe die honde hulle bestorm en verjaag het.

Al waarmee hulle kon wegkom, is ’n ou platskermtelevisiestel uit die onderste televisiekamer, het Morrison gesê.

“Ek het niemand gesien nie. Die polisie het later drie stelle voetspore buite gekry en handmerke teen die ruite. Dit lyk asof hulle handskoene gedra het.”

Volgens haar het die rowers ’n venster op die grondvloer oopgedwing en daarna ’n skuifdeur oopgemaak.

Die voorval het haar groot laat skrik, sê sy. “Mense moet bedag wees. In al die jare wat ons hier vakansie hou, het hier nog nooit iets gebeur nie. In die vervolg sal ek die alarm aktiveer.”

Morrison, wat honde red en nuwe tuistes vir hulle soek, het haar honde op Facebook vir hul dapperheid geprys en gesê hulle het haar lewe gered.

Meer oor:  Glentana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.