Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog ’n kind sterf glo aan pa se hand in Noord-Kaap

Die Noord-Kaap is Woensdag deur nóg ’n gesinstreurspel geskud toe ’n pa glo sy baba van sewe maande by Loeriesfontein vermoor het.

Dit is die derde voorval die afgelope tyd waar kinders deur hul ouers of iemand na aan hulle leed aangedoen is.

Lt.genl Risimati Shivuri, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval by Loeriesfontein veroordeel waar ’n 43-jarige man sy babadogtertjie met ’n mes doodgesteek het.

Die man, wat van sy vrou vervreemd is, het sy twee dogtertjies (die baba en ’n tweejarige peuter) by sy vrou gevat en geweier om hulle weer aan haar terug te besorg.

Die hof het die kinders in die ma se sorg geplaas.

Die man het glo eers die baba met die mes doodgesteek en toe homself met die mes beseer.

Hy is onder polisiebewaking in die hospitaal.

Die ander dogtertjie is nie beseer nie en weer in haar ma se sorg.

Shivuri het die gemeenskap gevra om oplossings vir huishoudelike probleme te soek en vir berading te gaan.

“Om iemand se lewe te neem is ’n misdaad, ongeag die omstandighede,” sê hy.

Soos vroeër berig is die lyke van ’n pa, Nandos Ramasehele (32), en sy twee dogtertjies, Lebogang-Angel (8) en Orisilwe-Gladness (4), op 5 Desember uit ’n kanaal by Louisvale Dorp buite Upington gehaal.

Ramasehele het volgens inligting met die kinders in die kanaal gespring en verdrink.

In nog ’n voorval op 22 November is Mariana Pieters (11) se lyk saam met dié van haar suster, Anna (20), en dié se kêrel, ene Phiri, ook uit ’n kanaal by Louisvale Dorp gehaal.

In nog ’n voorval het ’n vrou Saterdag, ook by Louisvale Dorp, haar ma met ’n mes gesteek en gedreig om met haar kinders in die kanaal te spring.

Die polisie ondersoek nog die voorval.


Meer oor:  Noord-Kaap  |  Loeriesfontein  |  Kindermoord  |  Gesinsgeweld  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.