Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nóg ’n kinkel in die Patel-riller
Rameez Patel en Tumi Mokwena, sy prokureur, Maandag in die hooggeregshof in Polokwane. Foto: MARIETIE LOUW-CARSTENS

Rameez Patel, dubbelmoordbeskuldigde van Polokwane, is bekommerd oor “hoe dit lyk” nadat sy jonger broer, Razeen, geskiet is ’n dag voordat hy teen hom in die hooggeregshof sou getuig.

Die 31-jarige Rameez het Maandag in die hooggeregshof in Polokwane sy arms in die lug gegooi en sy kop in ongeloof geskud toe hy by die polisie hoor Razeen (24) is Sondag in die vroeë oggendure geskiet.

“Hoe moet dit my nou laat lyk? Dit lyk asof ek berug is. Dank God dat ek in aanhouding is, anders het die polisie my seker van die skietery verdink,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Eers is sy vrou, Fatima (28), in 2015 vermoor, daarna sy pa, Feroz Patel (55), in 2016 en toe in 2017 is sy ma, Mahejeen (51), in die kop geskiet.

Die raaisel rondom die skatryk sakegesin het verlede Maandag verdiep toe Razeen verdwyn het toe hy teen sy broer moes getuig. Sy Nissan-bakkie is met bloed aan gekry.

Die polisie het hom later dieselfde dag opgespoor en hy was onder polisiebewaking.

Volgens ’n lid van die ondersoekspan, wat anoniem wil bly, het Razeen “weggeloop om dwelms te gaan koop”.

Fatima en Rameez Patel. Foto: VERSKAF
Fatima Patel (28) wat in April 2015 in Polokwane vermoor is.

Hy is Saterdagaand ná ’n partytjie geskiet, het kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, gesê. Razeen is in ’n bedenklike, maar stabiele toestand in ’n hospitaal.

Regter Joe Raulinga het Maandag gesê hy is bekommerd oor die gebeure. “Ek hoop nie wat gebeur het, is doelbewus nie. Dit maak ’n mens bang. ’n Mens begin wonder wie volgende is.”

Die Patel-sage het op Vrydag 10 April 2015 begin toe Rameez se vrou, Fatima, in die egpaar se meenthuis in Nirvana vermoor is.

Sy is eers met ’n bofbalkolf oor die kop geslaan, toe só hard gewurg dat haar tongbeen gebreek het voordat sy met ’n 9 mm-pistool op ’n kort afstand in die gesig geskiet is.

Rameez Patel hou vol dit is “tsotsi’s” wat haar vermoor het. Niks is uit die huis gesteel nie.

Rameez het die oë laat rek toe hy, terwyl die polisie nog in die moordhuis was, na ’n oom van hom se huis gegaan het om te bad en skoon klere aan te trek om die gebruiklike Vrydagaand Moslem-gebede by te woon.

Rameez is ses dae later in hegtenis geneem en is in Junie 2015 op borgtog van R250 000 vrygelaat. Familielede het die bedrag kontant betaal.

Feroz Patel (55), wat die familie-ondernemings bestuur het, is op Vrydag 12 Augustus 2016 doodgeskiet. Die polisie het nog niemand weens dié moord in hegtenis geneem nie.

Hy het in ’n koeëlreën gesterf toe mans op hom in die nywerheidsgebied van die stad losgebrand het.

Rameez Patel het ná die moord op sy pa sielkundige behandeling gekry. Dit het die moordverhoor vertraag.

Razeen Patel (24) wat Sondag vier keer geskiet is. Foto: VERSKAF
Rameez Patel in November buite sy ma se huis in Nirvana in Polokwane. Foto: MARIETIE LOUW-CARSTENS
Feroz en Mahejeen Patel, ouers van Rameez Patel. Foto: VERSKAF
'n Onlangse foto van Razeen Patel (24), broer van Rameez Patel. Foto: Verskaf

Die volgende tragedie wat die Patels getref het, was die moord op sy ma, op Mahejeen, op Dinsdag 19 September 2017. ’n Onbekende man het haar in haar huis in Jaipurstraat in Nirvana in die kop geskiet. Sy is dieselfde aand in die Mediclinic Limpopo in Polokwane dood. Rameez is op Vrydag 29 September weens haar moord in hegtenis geneem.

Die polisie beweer hy het ’n huurmoordenaar R15 000 betaal om sy ma te vermoor.

Mahejeen het kort voor haar dood aan ’n familievriend gesê: “As ek sterf, sal dit weens Rameez wees.”

Rameez is in Februarie borgtog in die saak geweier. Hy hou vol hy het niks met die moord op sy vrou, sy ma, sy pa en die skietery op sy broer te doen nie.

Meer oor:  Rameez Patel  |  Polokwane  |  Moord  |  Hofsaak  |  Geskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.