Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nóg ’n polisieman in Oos-Kaap vermoor

Die skietdood van ’n polisiekonstabel in Port St. Johns is minstens die vyfde moord op Oos-Kaapse polisiebeamptes sedert die begin van Augustus.

Verbygangers het die lyk van konst. Bathembu Mabhududu, wat aan die Port St. Johns-Vispol-polisie-eenheid verbonde was, Dinsdagoggend in ’n veld by die plaaslike Tambo-nedersetting aangetref.

Volgens brig. Tembinkosi Kinana, provinsiale polisiewoordvoerder, het Mabhududu verskeie skietwonde aan sy lyf gehad.

Na bewering was Mabhududu Maandagaand omstreeks 22:00 onderweg na sy vrou wat ’n kamer elders in die nedersetting huur. Hy was nie toe aan diens nie.

Mabhududu is aangeval voordat hy by sy vrou kon uitkom.

Kinana sê Mabhududu se selfoon word vermis, maar hy wou nie bespiegel oor ’n moontlike motief vir die aanval nie.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, polisiekommissaris vir die Oos-Kaap, het haar medelye teenoor Mabhududu se naasbestaandes uitgespreek. Sy het gesê die aanval of moord op ’n polisiebeampte mag nie ligtelik opgeneem word nie en diegene wat betrokke is, sal die volle mag van die wet ervaar.

Die moord op Mabhududu volg etlike dae nadat sers. Leonardo Frieslaar van die Kabega Park-polisiekantoor in Port Elizabeth doodgeskiet is.

Frieslaar se lyk is Saterdagaand agter die stuur van sy motor in Wallflowerstraat in Bethelsdorp aangetref nadat ’n skietery in die gebied aangemeld is. Hy het ’n skietwond aan sy kop gehad.

Hy was ten tyde van sy dood van diens af.

Vroeër in Augustus is nog drie Oos-Kaapse polisiebeamptes in afsonderlike voorvalle in Ezibeleni naby Komani, Mount Frere en in Bethelsdorp vermoor.

Slegs die polisiebeampte in die Bethelsdorp-voorval is doodgeskiet terwyl hy aan diens was toe hy ’n verdagte agternagesit het.

Die jongste misdaadstatistieke het aangedui nege polisiebeampte is in die 2019-’20-boekjaar in die Oos-Kaap vermoor. Twee van die nege polisiebeamptes was aan diens toe hulle vermoor is.

* Nog niemand is vir die moord op Mabhududu aangekeer nie en enigeen met inligting oor die moord word versoek om kapt. Bongani Ngxola by 082 300 2861 te bel.

Meer oor:  Port St. Johns  |  Polisieman  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.