Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nog ’n tentkamp in Tafelberg-park gesluit weens veiligheid
Nog ’n tentkamp op die Hoerikwaggo-staproete in die Tafelberg Nasionale Park is weens veiligheidsoorwegings tydelik gesluit.Foto: Flickr (Warrenski)

Net een van die tentkampe op die Hoerikwaggo-staproete in die Tafelberg Nasionale Park is oop vir besoekers nadat nog ’n kamp weens veiligheidsoorwegings gesluit is.

Sanparke het Woensdag bevestig dat die Slangkop-tentkamp by Kommetjie tydelik gesluit is weens ’n “reeks misdade wat die afgelope paar maande aangemeld is”.

Dié tentkamp sal na verwagting tot 29 Februarie gesluit bly, terwyl die Orangekloof-tentkamp en Silwermyn-tentkamp ook gesluit is.

Lauren Howard-Clayton, Sanparke se streekwoordvoerder, sê uit die vier tentkampe op die staproete is net die Smitswinkel-kamp oop vir besprekings.

Die kampe dien as verblyf vir stappers op die roete wat Tafelberg en Kaappunt verbind en ’n paar dae neem om te voltooi.

Saskia Marlowe, bestuurder van Sanparke se gasvryheidsdienste, sê daar was verskeie voorvalle in die Slangkop-kamp en dit het gelei tot die besluit dat ’n “veilige omgewing nie meer vir gaste wat oornag bly gebied kan word nie”.

Tafelberg soos gesien van Leeukop se kant af in Kaapstad. Foto: Argief

“Ons gaan die kamp tydelik sluit om te ondersoek of bykomende maatreëls om die gevaar van misdaad te verminder, veiligheid in die kamp sal verbeter.”

Gaste wat bespreek het in die tydperk wat die Slangkop-kamp gesluit is, is ingelig en krediet of ’n terugbetaling aangebied, volgens Sanparke.

“Die Tafelberg Nasionale Park vra om verskoning vir die ongerief en wil benadruk dat die besluit nie ligtelik nie en in die belang van ons gaste geneem is.”

Luidens Sanparke se webwerf kan besoekers die Hoerikwaggo-staproete oor ses dae voltooi en beteken die naam “berg in die see” in Khoi-Khoi.

Dele van die staproete het oor die laaste paar jaar onder rowers en veldbrande deurgeloop.

Sanparke het in November 2018 bevestig dat die Orangekloof-kamp by Constantianek gesluit is omdat besoekers die teiken van rowers geraak het, het News24 berig.

Lees ook oor die Orange Kloof-kampeerterrein wat gesluit is.

Dit sou aanvanklik net tot einde Maart verlede jaar gesluit gewees het en Sanparke het toe aangedui dat ’n geëlektrifiseerde heining, onder meer, opgerig gaan word.

Tafelberg is in Junie verlede jaar deur die World Travel Awards as Afrika se grootste toeristetrekpleister aangewys en het die V&A Waterfront, Robbeneiland, Kilimandjaro en die piramides van Giza uitgestof.

In 2011 is Tafelberg ook in ’n wêreldwye stemming as een van die sewe nuwe natuurwonders van die wêreld gekies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.