Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nóg ’n vrouedokter by Bloem-hospitaal aangeval

Nóg ’n vrouedokter is glo Saterdag in die vroeë oggendure deur drie gewapende mans in die parkeerterrein van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein aangeval.

Netwerk24 verneem die mans, waarvan een met ’n pistool gewapen was, wou glo die dokter kaap, maar sy het geskreeu, waarna die mans haar selfoon gegryp en gevlug het.

Een van die mans het die pistool se magasyn in die parkeerterrein laat val.

Die polisie was glo minute later op die toneel.

Dit is die tweede aanval in minder as ’n week op ’n vrouedokter by dié hospitaal.

Die Pelonomi-hospitaal

’n 24-jarige inwonende dokter is Dinsdagaand laat byna deur ’n man in ’n roepkamer in die hospitaal verkrag.

Die dokter het om 23:50 in die kamer gerus toe die man aanhoudend aan die deur klop. Sy het later oopgemaak omdat sy gedink het dit is ’n ander dokter wat ook wil kom rus.

Dit is toe dat die man haar aangeval en probeer verkrag het. Sy kon terugbaklei en het ’n stuk van die man se

tong afgebyt. Die man het daarna gevlug en is later by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein aangekeer.

Die 30-jarige man van Welkom het Vrydag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

’n Vrou, wat verkies om anoniem te bly uit vrees vir haar veiligheid, sê die vrouedokter het haar skof klaar gemaak en was op pad na haar motor toe sy deur die mans oorval is.

Volgens die vrou was daar veiligheidswagte, “maar hulle is te bang om te help”.

“Sê nou hulle het nie net haar selfoon gevat nie? Wat as dit veel erger was? Hoeveel mense, dokters moet nog aangeval word? Asseblief, doen iets; ons kinders gaan dood.”

’n Bekommerde ouer van ’n mediese student sê

hulle is diep bekommerd oor hul kinders se veiligheid en kan nie langer stilbly nie.

Modli Mvambi, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, sê hulle betreur die aanval. “Ons ondersoek die storie om al die noodsaaklike inligting bymekaar te maak en sodoende die oortreders krimineel te vervolg en ook om Pelenomi ‘n veilige te maak.”

Volgens Mvambi het die veiligheidswagte wat hulp aan die vrouedokter verleen het, ook met ’n vuurwapen gedreig.

Hy sê sedert die byna-verkragting het hulle meer veiligheidswagte aangestel en verseker dat daar minder deure snags oop is.

Verder het hulle ook ’n beroep op werkers gedoen om veiligheidswagte te vra om hulle na en van die parkeerterrein te begelei.

“Dit is duidelik dat in dié gevalle dit nie ’n gebrek aan sekuriteit is nie, maar die vasberadenheid van misdadigers om ’n misdaad te pleeg. Dit is nie ons bedoeling om Pelenomi in ’n oorlogsone te verander waar elke veiligheidswag om elke hoek en draai ’n vuurwapen rondswaai nie.”

Mvambi sê hulle doen ’n beroep op dokters om nie alleen in enige deel van die hospitaal te loop nie.

Navrae is ook aan die polisie gerig.

Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Bleomfontein  |  Verkragting  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.